|

AFRIFORUM JEUG-TAK IN BLOEMFONTEIN SKENK KERSGESKENKE AAN JEUGSORGSENTRUM

Die AfriForum Jeug-tak in Bloemfontein het op Saterdag 7 November geskenke by Ons Kinderhuis-jeugsorgsentrum uitgedeel. Dié geskenke is vanuit die gemeenskap ingesamel. AfriForum se Hospitaalpark-tak het vanjaar ook 24 enkelbedmatrasse geskenk nadat dié sentrum ’n versoek daarvoor aan die plaaslike gemeenskap gerig het.

“Dit was ’n besonderse dag. Dit was lekker om tyd saam met die kinders deur te bring en te sien hoe hulle die dag geniet,” sê Llewellyn Olivier, voorsitter van die Bloemfontein-tak. “Ek is dankbaar dat ek en die AfriForum Jeug-span deel van hierdie dag kon wees.”

Daar is ongeveer 110 kinders in die sentrum, en hul ouderdomme wissel van een tot negentien jaar. Elke kind het unieke behoeftes; daarom versoek die sentrum ook goedere soos niebederfbare voedsel en klere.

“Dit is kosbaar om die kinders en personeel se waardering te sien. Ons wil graag almal wat deel was van die projek vir hulle bydrae bedank. Ons kan met blydskap sê dat ons werklik ’n verskil gemaak het,” sê Lourika van der Walt, lid van AfriForum Jeug.

Hierdie is ’n deurlopende projek wat te danke aan samewerking tussen die Bloemfontein-gemeenskap, AfriForum Jeug en Dina van Heerden ’n reusesukses was.

Soortgelyke plasings