|

AfriForum-tak in Viljoenskroon plaas Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit op terme oor riool

Die AfriForum-tak in Viljoenskroon het die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit op  terme geplaas oor die haglike toestand in Viljoenskroon as gevolg van riool. Aangesien riool wat vry rondvloei in die dorp ’n probleem is wat nou al vir ten minste sewe jaar kom, moet die munisipaliteit nou spoedig iets daaraan doen.

’n Besoek aan die plaaslike rioolwerke het gewys dat dit nie op standaard is nie en dat baie riool nie eers by die rioolwerke uitkom nie. Viljoenskroon, Rammulotsi en die Vleiland word dikwels met riool oorspoel en op verskeie plekke in hierdie areas het riooldamme begin vorm. Mahemsvlei, die bewarea, word ook besoedel en daardie water vloei na die Vaalrivier. Die dam wat vir ontspanningsdoeleindes daargestel is, is so vol riool dat niemand dit meer kan besoek nie.

Die probleem woord deels veroorsaak as gevolg van die feit dat die rioolstelsel vir 7 000 inwoners ontwerp en gebou is en dat dit tans deur meer as 111 000 inwoners gebruik moet word. ’n Verdere probleem is dat die eienaars van diere wat vry rondloop waarskynlik die rioolnetwerk beskadig om water vir hulle vee te kry. Die netwerk is nie beveilig nie en daar is ook nie voldoende sekuriteit nie.

Daar is dikwels onbevoegde kontrakteurs aangestel wat die probleem nie opgelos het nie, maar eintlik vererger het. Indien die probleem vererger gaan sakeondernemings hul ondernemings uit die dorp onttrek aangesien dit nie goeie omstandighede is om ’n onderneming te bedryf nie, dit gaan verreikende gevolge inhou vir die dorp. Inwoners en sakeondernemings het op verskeie plekke self verbeterings aan die dorp aangebring maar dit is te duur om volhoubaar te wees veral aangesien inwoners reeds belasting betaal.

Aangesien die storting van riool onwettig is, veral in ’n plek wat water voorsien soos die Vaalrivier, het die AfriForum-tak die munisipaliteit se lisensies vir die bedryf van die rioolwerke aangevra. Hulle word gemaan om die werke op standaard te bring en iets daadwerkliks te doen aan die rioolstortings oral in die distrik. Hulle is tyd gegee tot 17 Junie om met ’n plan vorendag te kom, anders sal die tak regstappe doen.

“Hierdie toedrag van sake is absoluut onaanvaarbaar en die munisipaliteit kan verseker wees van optrede as hulle nie daadwerklik iets aan die rioolprobleem doen nie. Aangesien swak onderhoud en onbevoegdheid van die hoofoorsake van die probleem is, moet daar onmiddellik daaraan aandag gegee word,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by AfriForum betrokke te raak. SMS “Viljoenskroon” na 45344 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings