AfriForum loods 24/7-paniekknoppie vir lede


AfriForum het verlede week amptelik die AfriForum 911 TrackBox-paniekknoppie vir dié organisasie se lede geloods.

“Ons is trots om aan te kondig dat ons die bestaande AfriForum 911-nooddienste, wat ons reeds etlike jare gratis aan AfriForum-lede bied, nou uitgebrei het om ook ’n selfoonpaniekknoppie in te sluit,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van veiligheid.

Waar lede tot dusver in noodgevalle telefoniese hulp van AfriForum 911 moes ontbied, kan hulp nou bloot deur die druk van ’n knoppie op ’n selfoon vinniger ontbied word. Om van die beste beskikbare tegnologie gebruik te maak, het AfriForum besluit om die noodknoppie en nooddiens aan te bied in samewerking met TrackBox Technologies, ’n maatskappy met ’n beproefde baanrekord. TrackBox se bestaande nooddiensvennote sluit in die SAPD, die Valke, die K9-eenheid, 10111-sentrums, Netcare 911, ER24, die brand- en reddingsdepartemente, gevorderde lewensondersteuning, die Ethekweni Munisipaliteit en die Stad Kaapstad.
Die AfriForum 911 Trackbox-noodtoep kan op jou selfoon afgelaai word om dit in ’n paniekknoppie te verander. Dié toep koppel jou direk aan enige toepaslike diensverskaffers dwarsoor Suid-Afrika. Dié toep stel jou ook in staat om verdagte aktiwiteite aan te meld, asook om ’n GPS-ondersteunde waarskuwing te laai – dit maak dus nie saak waar jy is nie: jy kan gevind en gehelp word.

“Deur die inligting te gebruik wat jy op die AfriForum 911 Trackbox-toep laai, kan die beheerkamer dié inligting aan die noodeenhede deurgee sodat hulle jou noodgeval doeltreffend kan hanteer,” verduidelik Cameron.

Cameron sluit af deur te noem dat dié toep ’n groot stap vorentoe vir AfriForum 911 is, maar veral vir AfriForum-lede wat nou toegang het tot een van die beste paniekknoppietegnologieë het.
Besoek die webtuiste vir meer inligting: https://www.afriforum911.co.za/.

Soortgelyke plasings