|

EFF-jeuglid skuldig bevind aan haatspraak en aanhitsing tot geweld

Die gelykheidshof in Pretoria het vandag beveel dat Luvuyo Menziwa, ʼn voormalige lid van die Universiteit van Pretoria (UP) se studenteraad (SR) en lid van die universiteit se EFF-jeugvereniging, gemeenskapsdiens in armoedige wit gemeenskappe moet verrig.

Dit volg nadat Menziwa in 2016 in ʼn inskrywing op Facebook gesê het dat hy wit mense met ’n AK-47 of ’n bazooka wil doodmaak.

Die hof het verder beveel dat Menziwa binne vyf dae vanaf die hofuitspraak op sy Facebook-blad om verskoning vir sy aksies en die nadelige gevolge daarvan moet vra.

Menziwa het destyds aan Forum Nuus gesê dat hy aangespoor is om die uitlatings te maak na aanleiding van die hare-voorval waarby meisies van die Pretoria High School for Girls betrek is. Hulle het glo die skool se gedragskode oortree.

“Die hele kwessie rakende #RhodesMustFall en die geweld wat op kampusse plaasgevind het, het my nou al vir ʼn lang tyd kwaad gemaak. Die voorval by die skool was egter die keerpunt wat veroorsaak het dat ek my gevoelens op sosiale media moes deel.”

In sy inskrywing op Facebook het hy wit bevoorregting, wit dominansie, wit arrogansie, wit monopolie-kapitaal en wit superioriteit gelys as kwessies wat hom pla. Hy het ook geskryf dat daar ’n verskil tussen “wit mense” en “wittes” is.

“Volgens my is ‘wittes’ mense wat die behoefte vir menslike bewustheid raaksien, waar ‘wit mense’ konserwatief is en slegs hulle eie taal en kultuur wil bewaar,” het Menziwa gesê.

AfriForum Jeug se Tuks-tak het kort nadat Menziwa in 2016 die plasing gemaak het, ʼn protesaksie op die kampus gehou waartydens hulle geëis het dat Menziwa summier geskors word uit die SR én van die kampus af. Die SR het op dieselfde dag aangekondig dat Menziwa sy baadjie moes ophang.

Henrico Barnard, voormalige SR-voorsitter van die UP en lid van AfriForum Jeug, het na aanleiding van hierdie plasing, in ʼn klag teen Menziwa vir haatspraak en aanhitsing tot geweld aanhangig gemaak.

“Dit is verblydend om te sien dat politieke studenteleiers nie bo die wet verhewe is nie. Ek wil dit benadruk dat leiers verantwoordelikheid moet aanvaar vir hul uitlatings en hulle nie moet skuldig maak aan goedkoop politiekery nie,” sê Barnard

“AfriForum verwelkom die uitspraak omdat diegene, ongeag hul kleur, wat hulle skuldig maak aan haatspraak en aanhitsing tot geweld deur die howe gestraf moet word. Ons let egter daarop dat Menziwa se straf nie naastenby so hewig soos dié van individue soos Penny Sparrow is nie, alhoewel Menziwa se uitlating ’n element van geweld bevat het. Net so fokus talle mediahuise telkens op gevalle van sogenaamde rassisme waarby wit oortreders betrokke is, maar hierdie geval, waar ’n swart individu homself aan dieselfde misdryf skuldig gemaak het, is nie gedek nie,” sê Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug.

Soortgelyke plasings