AfriForum maak gereed om klagtes van korrupsie, bedrog en geldwassery teen Malema en Shivambu te lê

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy regspan vanoggend opdrag gegee om klagtes van korrupsie, bedrog en geldwassery teen die EFF-leiers, Julius Malema en Floyd Shivambu, te formuleer. Dié klagtes sal binnekort by die polisie gelê word.

AfriForum het ook vir adv. Gerrie Nel en sy span by AfriForum se privaatvervolgingseenheid versoek om die saak te monitor en druk op die vervolgingsproses te plaas indien dit sou blyk dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) voete sleep. “Sou die staat egter versuim om Malema en Shivambu te vervolg, sal AfriForum privaat vervolging as alternatief oorweeg,” benadruk Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Dit volg in reaksie op onthullings wat die voormalige voorsitter van VBS Mutual Bank, Tshifhiwa Matodzi, vandeesweek as deel van sy pleitooreenkoms in ’n omvangryke verklaring gemaak het. Matodzi het skuldig gepleit op 33 klagtes van onder meer korrupsie, diefstal en geldwassery, en voer nou aan dat die EFF sedert 2017 maandelikse donasies en ’n sogenaamde besigheidslening ten bedrae van miljoene rand deur ’n frontmaatskappy, Sgameka Projects, van VBS ontvang het. Dit blyk dat ’n bedrag van R5 miljoen oorspronklik oorbetaal is, waarna maandelikse donasies van R1 miljoen en ’n R4 miljoen-lening gevolg het. Matodzi se verklaring dui daarop dat dié geld as omkoopgeld aan die EFF betaal is, maar dat Malema en Shivambu veral in hul persoonlike hoedanigheid voordeel getrek het by dié transaksies. 

AfriForum voer aan dat Matodzi se verklaring voldoende gronde vir die NVG daarstel om ’n bewaringsbevel op Malema en Shivambu se bates te bekom.

“Die staat se versuim om Malema vir sy aandeel in die On Point Engineering-korrupsiesaak te vervolg, het skynbaar by hom die indruk geskep dat hy onaantasbaar is en bloot sy betrokkenheid by beweerde korrupte bedrywighede kan voortsit. Dit is daarom belangrik dat Malema en Shivambu vir die VBS-plundering vervolg word om ’n baie duidelike boodskap uit te stuur dat niemand bo die reg verhewe is nie,” sluit Kriel af.

Soortgelyke plasings