|

AfriForum: Plaasmoordenaars moet swaar gestraf word

AfriForum se hoof van beleid en aksie, Ernst Roets, het vandag ’n beroep op die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein gedoen dat plaasmoordenaars swaar gestraf moet word vir dié  grumisdade. Dit het deel gevorm van Roets se deskundige getuienis oor plaasmoorde tydens die moordsaak van  Sakkie (67) en Ina (62) van den Berg. Die slagoffers is in 2019 op hul plaas naby Boshof in die Vrystaat vermoor. Roets is deur die aanklaer in hierdie saak  genader om te getuig oor die omvang van plaasaanvalle en -moorde en die impak daarvan op gemeenskappe, families en die samelewing in die algemeen.

Al vier beskuldigdes in hierdie saak, Johannes Sekgoro, Thami Terence Kat, Leepile Daniel Sidasi en Daniel Tsekiso Seloane, is vroeër vandeesweek skuldig bevind aan moord en roof met verswarende omstandighede. Twee van die beskuldigdes (Kat en Seloane) is ook skuldig bevind vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

In sy getuienis het Roets verduidelik dat plaasaanvalle en -moorde reeds in teorie as prioriteitsmisdade geag word aangesien dit as sodanig deur die voormalige Nasionale Polisiekommissaris Khomotso Phahlane, sowel as die huidige Minister van Polisie, Bheki Cele, verklaar is. Roets het egter verduidelik dat hierdie misdaadverskynsel nie in praktyk as prioriteitsmisdaad beskryf kan word nie aangesien die toepaslike teenstrategie nie geïmplementeer is nie. Teen hierdie agtergrond is Roets se beroep op die hof dat die hof sy rol moet speel in die prioritisering van hierdie aanvalle en moorde deur die oortreders swaar te straf.

“Om hierdie oortreders swaar te straf is ’n noodsaaklike stap om die boodskap dat geregtigheid geskied het aan die gemeenskap en families van hierdie slagoffers oor te dra. Dit sal ook ander oortreders daarvan afskrik om soortgelyke misdade te beplan,” sê Roets.

“Plaasmoorde affekteer nie net die onmiddellike familie van die oorledenes nie, maar ook die samelewing in die algemeen. Plase is die lewensbloed van landelike gemeenskappe. Wanneer ons dus ons boere verloor, gaan ons landelike gemeenskappe ook verlore,” sluit Roets af.

Soortgelyke plasings