AfriForum oor Jacob Zuma: Versuim om oud-president terug te stuur tronk toe bevestig ANC-kaders is verhewe bo die wet

Die burgerregteorganisasie AfriForum beskou die Departement van Korrektiewe Dienste se besluit om Jacob Zuma kwyt te skeld van sy vonnis as ’n belediging vir geregtigheid en die oppergesag van die reg. Die tyd wat Zuma op parool deurgebring het – wat onregmatig toegestaan is – tel nié as die uitdiening van ’n vonnis nie. In 2023 het die Konstitusionele Hof die Hoogste Hof van Appèl se uitspraak bekragtig dat Arthur Fraser, voormalige Nasionale Kommissaris van Korrektiewe Dienste, se toestaan ​​van mediese parool aan Zuma in 2021, net twee maande ná hy sy vonnis van 15 maande begin uitdien het, onwettig was.

Die departement se narratief dat Zuma een van duisende gevangenes was wat spesiale kwytskelding van vonnisse toegestaan ​​is in ’n poging om oorbevolking in tronke te verlig, blyk niks meer as ’n dekmantel te wees om ’n magtige politikus te help om geregtigheid te ontwyk nie.

“Daar is nie ’n meer bevoorregte en beskermde posisie in Suid-Afrika as om ’n ANC-kader te wees nie. Zuma se spesiale behandeling en ontwyking van geregtigheid bewys dit weereens. Dit is duidelik dat die ANC sal verseker dat nie een van sy kamerade ooit tyd agter tralies deurbring nie, al maak dit ’n bespotting van die oppergesag van die reg in hierdie land,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Die Jacob Zuma-saak bewys dat solank as wat die ANC aan bewind is jy verseker kan wees dat enigiemand na aan die party effektief bo die wet verhewe is,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings