|

AfriForum skenk voer aan Noordwes-boere geraak deur brande

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die laaste week 63 koring strooibale aan boere in die Vryburg-omgewing geskenk wat onlangs onder veldbrande deurgeloop het. Dié strooibale het altesaam 14 ton geweeg.

In Augustus en September het meer as 200 000 hektaar se weiding afgebrand as gevolg van veldbrande. Meer as 60 beeste het in hierdie tydperk doodgebrand. 

“Baie boere in die omgewing het groot skade gelei weens die brande. Daar is boere wat geen meer weiding vir hulle vee oor het nie, daarom het AfriForum ingespring en voer geskenk om boere in hierdie moeilike tyd te help,” verduidelik Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Hierdie skenking is moontlik gemaak deur AfriForum se Voer vir ’n boer-projek.

AfriForum se Vryburg-tak het ook water, Powerade en niebederfbare kos vanuit die gemeenskap ingesamel vir die persone wat gehelp het om die brande te bestry.

“AfriForum wil graag sy lede bedank wat bydraes gelewer het tot hierdie veldtog en moedig sy lede aan om verdere skenkings te maak om die boere te help. Veldbrande hou ’n groot risiko vir boere én die gemeenskap in, daarom is dit belangrik dat ons mekaar gedurende hierdie tydperk ondersteun,” sluit Nel af.

Skenkings vir die veldtog kan in die volgende rekening betaal word:

Banknaam: FNB

Rekeninghouer: AfriForum NPC

Takkode: 261550

Rekeningnommer: 62349898398

Verwysing: Brande

Soortgelyke plasings