|

AfriForum oorhandig meer as 10 kg vlieë aan Tshwane Metro ná grootskaalse besoedeling

Lede van AfriForum se Apiesrivier-tak het vandag in samewerking met studente wat vanjaar deel van dié organisasie se internskapsprogram is, sowat 10kg vlieë, rioolafval en ʼn memorandum by die Tshwane Munisipaliteit se hoofkantoor oorhandig.

Dié aksie volg nadat onbehandelde riool by die Rooiwal-rioolwerke grootskaalse besoedeling veroorsaak het en gevolglik die Apiesrivier en die ondergrondse water in die landelike gebied besoedel het. Boonop dien die ongeveer 100 hektaar grond waar die onbehandelde slik gestort word as ’n ideale broeiplek vir vlieë, wat volgens die burgerregte-organisasie ’n groot gesondheidsrisiko vir inwoners en die omgewing inhou.

Lede van die Tshwane Metro Polisiediens (TMPD) het dié memorandum, waarin ʼn aksieplan vereis word, namens die munisipale direksie ontvang.

Roelof van der Walt, woordvoerder van AfriForum, het aan Forum Nuus gesê die emmers vlieë is simbolies van die plaag wat onstaan het as gevolg van die rioolstorting.

“Ons wil die Tshwane Metro simbolies konfronteer met dit waaraan inwoners van die Apiesrivier-omgewing elke dag aan blootgestel word.”

Volgens Van der Walt is die saak reeds in 2011 by die munisipaliteit aangemeld.

“Die saak sloer nou al ʼn geruime tyd. Op ʼn stadium het die munisipaliteit ʼn korttermynoplossing probeer implementeer, maar dit was egter nie volhoubaar nie. Die probleem het intussen baie vererger en benodig dringende ingryping.”

Van der Walt sê voorts dat die lae lewensgehalte wat die landelike gemeenskap tans ervaar, aan swak munisipale bestuur toegeskryf kan word. Hy meen dat toerusting en masjinerie wat buite werking is, van die grootste bydraers tot dié grootskaalse besoedeling is.

“Die besoedeling raak ʼn groot hoeveelheid mense en inwoners van die omliggende landelike gebiede trek die swaarste. Dit is ook ʼn bedreiging vir diere en die omgewing.”

Die burgerregte-organisasie vereis dat die munisipaliteit binne sewe dae op die memorandum moet reageer.

Indien lede van die publiek op enige wyse by hierdie projek betrokke wil raak, kan hulle Tarien Cooks, AfriForum se koördineerder in Pretoria-Noord, kontak by tarien@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings