|

AfriForum-Sasolburg spog met meer as 160 hektaar se grassny vir 2024

Die AfriForum-tak in Sasolburg het in Mei steeds onverpoosd gewoeker met die aksies om die dorp netjies te hou. Daar is 19,97 ha gras gesny wat die totaal vir die jaar tot dusver op 162,4 ha te staan bring. Daar is ook aandag gegee aan straatligte maar ongelukkig is daar baie kabelfoute wat herstel moet word. 

AfriForum se Sasolburg-tak het ’n Sasolburg-operasionele vergadering byeengeroep. Die verteenwoordigers op die vergadering was AfriForum, die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Public Eye en Sasolburg Safety. Die inisiatief spruit uit die GPF se vergadering van die uitvoerende komitee waar al die betrokke partye operasionele probleme ondervind. Die fokus is om saam te werk en riglyne daar te stel oor hoe daar saamgewerk gaan word.  Almal het een doel voor oë en dit is die veiligheid van die gemeenskap. Al die betrokke partye het AfriForum bedank vir die vergadering en bevestig hoe broodnodig die samewerking is.

Daar sal ook ’n projek geloods word waar al die buurtwagte gaan saamspan om hekmotors en batterye te merk om die hoë diefstalsyfer van hekmotors te probeer bekamp. Die motor sowel as die battery word met ’n unieke nommer gemerk. (‘OIL-Erf No-Huis Nommer’).  Dit sal ’n unieke nommer gee wat op ’n gesamentlike databasis geplaas sal word, waartoe al die buurtwagte toegang het.

Tans is die Sasolburg-tak ook besig met die oudit van die brandkrane in Sasolburg en Vaalpark. Daar is altesaam 1 003 brandkrane wat geoudit moet word.

Op Saterdag 25 Mei het die tak ook weer by Die Veiling hulle maandelikse mark gehou.

“Hierdie tak is al so bekend vir hulle diens aan die gemeenskap, veral wanneer dit kom by skoonmaak en grassny. Die maandelikse mark is ook ’n lekker geleentheid wat aan die gemeenskap gebied word om saam sosiaal te verkeer. Ek moedig inwoners van Sasolburg aan om aktief by die tak en die buurtwag betrokke te raak. Jy doen dit uiteindelik vir jouself,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Volgens Johan Cooks, AfriForum se takvoorsitter van Sasolburg, is die tak besig om goeie vordering te maak met betrekking tot veiligheid in samewerking met al die buurtwagte in die dorp. “Dit is ’n riem onder die hart om saam met almal te kan werk. Saam sal ons Sasolburg veilig hou. Ons maak ook vordering met opleiding in die buurtwag,” sluit Cooks af.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: Kontak Cooks by 083 230 9073.

Soortgelyke plasings