|

Traumavrywilligers prakties opgelei om by plaasaanvalle en geweldsmisdade te help

AfriForum se traumaeenheid het op 8 Oktober in Stellenbosch nege vrywilligers opgelei om slagoffers van plaasaanvalle en geweldsmisdade op die toneel by te staan. Weens die toename in hierdie tipe misdade in landelike gebiede, het die behoefte aan traumaondersteuning toegeneem. Izel Kruger en Johan Kloppers, traumaberaders van AfriForum se traumaeenheid, het dié vrywilligers in die Wes-Kaap met die nodige kennis en vaardighede toegerus.

Die nege vrywilligers van die De Doorns-, Strand-, Helderbergkom- en Bellville-buurtwagte het by die Vredenheim-wynlandgoed vir praktiese opleiding bymekaargekom.

Die opleiding rus vrywilligers toe om slagoffers van plaasaanvalle en geweldsmisdade op die toneel emosioneel te ondersteun, te bemagtig en in hul onmiddellike behoeftes te voorsien. Realistiese tonele is vir die kursusgangers geskep om hul vaardighede op die toneel op te skerp.  

“Die vrywilligers het baie baat by die praktiese opleiding gevind en hulle het nou die nodige vaardighede om slagofferondersteuning in hul gemeenskappe te verleen. Hierdie opleiding en vrywilligers is ’n waardevolle toevoeging tot gemeenskapsveiligheid en ons hoop dit kan nog verder uitgebrei word,” sê Johan Kloppers, traumaberader vir die suidstreek.

AfriForum se traumaeenheid moedig buurtwagte en takke aan om deurgaans vrywilligers vir die eenheid te werf om sodoende die eenheid se vermoë om slagoffers tydens plaasaanvalle en geweldsmisdade te ondersteun, te versterk.

Soortgelyke plasings