|

AfriForum se Durban-takke eis antwoorde van eThekweni-metro

Die AfriForum-takke in die Durban-omgewing het op 5 Augustus ’n brief aan die eThekweni Metropolitaanse Munisipaliteit gestuur om antwoorde te eis oor ’n aantal klagtes. Dit volg nadat verskeie klagtes al by hierdie munisipaliteit ingedien is oor onder meer kragprobleme, straatligte wat buitewerking is en ernstige rioollekasies. Die areas wat geraak word, is Amanzimtoti, Pinetown en Queensburgh.

“Sommige van hierdie probleme, onder meer die rioollekasies, het al voor die oorstromings in April vanjaar ontstaan. Die probleme is nou egter soveel erger en ons stuur af op ’n ramp met riool wat vrylik in riviere invloei,” sê Reinette Mostard, voorsitter van die Pinetown-tak.

“Die rioollek naby Kuswag Skool is só erg dat dit onaangenaam is vir leerders om skool by te woon en dit hou gesondheids- en ekologiese risiko’s in,” sê Jannie van Staden, voorsitter van die Amanzimtoti-tak.

“Verder het ons geweldige uitdagings met elektriese kabels wat gereeld gesteel word en straatligte wat nie werk nie. Die straatligte wat buitewerking is, lei tot ’n toename in misdaad en ons mense voel onveilig. Ons strate is beskadig ná die vloede en herstelwerk is uiters stadig,” voeg Mosterd by.

“Dit is onaanvaarbaar dat gemeenskappe só lank moet wag en dat daar eers gekla moet word voordat die probleme aandag kry. Daar is rampfondse beskikbaar gestel en hierdie herstelwerk moes lankal begin het. Ons het verskeie vergaderings versoek met die munisipaliteit se betrokke afdelingshoofde, maar die vergaderings word net uitgestel,” sê Eugene van Aswegen, distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal.

“Ons het ook versoek om met die bestuur van die munisipaliteit te vergader om hierdie probleme en moontlike opossings te bepreek,” sluit hy af.

Soortgelyke plasings