AfriForum se Frankfort-tak skep hoop vir die toekoms deur bome te plant


Die AfriForum-tak in Frankfort het as deel van die burgerregte-organisasie se boomplantmaandprojek 20 bome in dié dorp geplant. Tien bome is ook aan sewe skole in die Frankfort-gemeenskap oorhandig.
Volgens Michelle Peens, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Vrystaat, beoog die organisasie om vanjaar landwyd meer as 2 000 bome te plant.

“Deur inheemse bome te plant is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en ’n mooier omgewing te skep om in te bly nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Ons het dit goedgedink om aan elke skool in Frankfort ’n boom te skenk – sodoende skep ons ’n positiewe gesindheid onder die jeug oor bome én hul erfenis,” sê Johan Ungerer, voorsitter van die AfriForum-tak in Frankfort.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum moedig sy takke aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Frankfort onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” sê Peens.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n beter en groener toekoms.

Soortgelyke plasings