|

AFRIFORUM SE MARGATE-TAK DIEN GEMEENSKAP MET HART EN SIEL

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Baie Suid-Afrikaners sien Margate slegs as ’n idilliese jaarlikse vakansiebestemming, maar dit gaan soos talle ander dorpe ook dikwels onder swak dienslewering en misdaad gebuk. Daarom is sterk gemeenskap- en veiligheidstrukture soos dié van AfriForum landwyd broodnodig.

Wessel Pretorius, tans die veiligheidsvoorsitter van dié kusdorp se tak, het nege jaar terug by AfriForum aangesluit en meen daar is tans nie ’n beter oplossing as dié wat die burgerregte-organisasie vir gemeenskappe bied nie. “Baie mense vra waarom by AfriForum aansluit en betrokke raak as jy dan reeds jou erfbelasting ens. betaal? Die realiteit is dat AfriForum inisiatief geneem het om gemeenskapslede te mobiliseer wat ’n verskil wil maak. Sukkelende staatstrukture kan nie meer alleen na ons as burgers omsien nie.”

Soos onlangs gesien met die plundering in KwaZulu-Natal, word dié streek ook nie uitgesluit as dit by geweld of protesaksies kom nie. Die Margate-tak is dus deel van ’n gevestigde veiligheidsnetwerk wat polisie, buurtwagte en 22 sekuriteitsmaatskappye insluit en oor meer as 27 dorpe strek en byna 300 boere insluit.

Dié buurtwag was ook van die eerstes wat ’n SNIPR-kamera in die Malaba-omgewing opgerig het. SNIPR is ’n outomatiese nommerplaatherkenningstegnologie wat nommerplate herken en kruisverwysings oor sowel ’n plaaslike as internasionale databasis met gelyste verdagte voertuie moontlik maak en ’n intekening op die wetstoepassingsowerheid gemoeid met die opspoor van gesoekte voertuie insluit.

Margate is ook een van vele Suidkus-dorpe wat gereeld met watertoevoer onderbrekings geteister word en dit het ’n geweldige impak op ondernemings en veral die toerismebedryf. Daarom het die tak reeds in 2018 ’n gesamentlike noodwaterpunt by die N.G. Kerk Margate se gemeenskaplike boorgat opgerig.

Volgens ds. Michael Heaney van die N.G. Kerk Margate en ook bestuurslid van die plaaslike AfriForum-tak, het die noodpunt al soveel as 50 kl water maandeliks vir gemeenskapslede verskaf in tye wat die dorp se watertoevoer beïnvloed was. Die tak het ook ’n watertenk by die polisie se Gesamentlike Operasionele Sentrum (GOS) op Margate se strand geïnstalleer.

Voor die COVID-19-pandemie het die Margate-tak ook jaarliks sedert 2015 ’n Geloftediens op Ramsgate se strand gehou en soveel as 500 mense het die diens al op ’n slag bygewoon.

Armoede en haweloosheid is ook ’n uitdaging in dié omgewing. ’n Studie wat in 2016 deur die Ethekweni-munisipaliteit gedoen is, het bevind dat daar byna 4 000 mense op straat en in hawelose skuilings in die middestad van Durban alleen woon.

Eugene Saunders en sy lewensmaat, Alet Swart, probeer egter hul bes doen om diegene wat in die Margate-omgewing swaarkry te help. Die paartjie bestuur ‘n skuiling in Schoolweg, Margate, genaamd Tent City, waar daar tans sowat 60 mense uit alle lewensterreine woon. Die egpaar, wat self al deur diep waters is, werk nou saam met die polisie, streekshospitaal, welsynsafdelings en Helpende Hand, wat almal mense na dié skuiling verwys.

Volgens Saunders moet diegene wat in Tent City woon streng reëls nakom. Geen dwelms of alkohol word op die eiendom toegelaat nie en geen bedelary word geduld nie. Na jou derde dag word jy ook in die werk gesteek, hetsy in die groentetuin of kombuis. Hulle probeer inwoners ook help om werk te vind, en sodra hulle op hul voete is en ‘n salaris begin verdien, word hulle aangemoedig om ander blyplek te kry en hul lewens weer te begin. Tent City is net ‘n tydelike hawe.

“Ons het verlede jaar 17 gesinne gehelp om weer op hul voete te kom en in hul eie wonings in te trek en ’n vars begin te hê. Nie alle hawelose mense is misdadigers en dwelmverslaafdes nie. Sommige het net nêrens anders om heen te gaan nie. Ek glo daarin om mense te help om hul verantwoordelikheidsin, selftrots en -respek weer op te bou, want niemand wat op die straat beland wíl daar wees nie.”

Die AfriForum-tak is ook op verskillende maniere by die skuiling betrokke en het onlangs gehelp om ’n dam op die terrein in skuiling te omskep. “Ek kan vir Cliff Holmes, wat voorsitter van die Margate-tak is, enige tyd skakel en hulle sal hul bes doen om ons by te staan. Dis danksy die ondersteuning van hierdie tipe organisasies dat ons kan aanhou om ons passie uit te leef en mense te help,” sê Saunders.

Wessel Pretorius gesels kortliks oor die Maragte-tak.

Soortgelyke plasings