|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek ’n sterk saak in die Appèlhof gestel oor hoekom die dreunsang “Kill the Boer” as haatspraak verklaar moet word. Dié burgerregteorganisasie het ook ingespring om te help om vullis in Pretoria te verwyder terwyl die onwettige staking in die Tshwane-metro steeds voortduur.

Die Gelykheidshof in Johannesburg het verlede jaar bevind dat die dreunsang “Kill the Boer” nie haatspraak is nie. Julius Malema het die lied weer by die EFF se tiende verjaardagviering voor ’n vol stadion ondersteuners gesing waarna daar ’n skerp toename in plaasaanvalle was. AfriForum het dus die Appèlhof genader om hul saak te stel oor hoekom die lied wel verban moet word. Uitspraak is voorbehou, maar AfriForum sal die stryd teen die sing van “Kill the Boer” enduit voer.

Met die staking in die Tshwane-metro wat steeds woed, het AfriForum se Pretoria-Wes-tak self ingespring om die vullisfiasko in Danville te pak. Aangesien stakers vullisverwyderingsvragmotors – wat wel vullis verwyder het – op plekke aan die brand gesteek het, het lede van die Danville-tak in hul buurt vragmotors vergesel om hul veiligheid te verseker. Ses vragmotors het gehelp om die agterstand van drie weke se vullisverwydering, wat nie plaasgevind het nie, in te haal.

AfriForum het intussen ’n vyfpuntplan aangekondig om die krisis in die Tshwane-metro op te los. Bykomend tot hierdie aksieplan het AfriForum ook ’n brief aan Panyaza Lesufi, die premier van Gauteng, gerig waarin die organisasie Lesufi waarsku om nie die Tshwane-metro om politieke redes onder administrasie te plaas nie. AfriForum het ook in hierdie brief beklemtoon dat die organisasie gereed is om enige nodige stappe te doen om te verseker dat sy lede en die publiek se regte beskerm word in hierdie verband.

AfriForum het geskrewe kommentaar by die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) ingedien om die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) wetsontwerp te verwerp. Verskeie ander rolspelers het ook hul kommer vir die voorgestelde NGV uitgespreek. AfriForum se kommentaar is gebaseer op deeglike navorsing. Een van die groot bekommernisse is die gebrek aan deursigtigheid en kritieke besonderhede rondom die voorgestelde NGV.

Hennie en Anneke Claassen is in Junie in hul afsonderlike huise op ‘n plaas in Ohrigstad grusaam vermoor. Hulle is gemartel en toe aan die brand gesteek. Ná volgehoue druk van AfriForum se privaatvervolgingseenheid is borgtog aan die beskuldigde vroeër vandeesweek geweier. “Die borgtog is geweier op grond van die erns en sterkte van die saak. Die weiering van borgtog is gewoonlik ‘n dryfveer om die saak spoedig af te handel,” sê Wico Swanepoel, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid.

Verskeie van AfriForum se takke was die afgelope week besig met volhoubare aksies om hul dorpe te verfraai of probleme aan te pak. In Standerton het die AfriForum-tak 1 000 liter water aan Ampath voorsien ná ’n wateronderbreking dié laboratorium se dienste tot stilstand gebring het.

Agt lede van AfriForum-buurtwagte in die Laeveld het skietopleiding ontvang wat hulle sal help om hulself en naasbestaandes te beskerm en die Chrissiesmeer-buurtwag is nou beter toegerus ná hulle ’n skenking van ses tweerigtingradio’s ontvang het.

AfriForum se Noord van die Berg-tak in Pretoria het in ’n maand se tyd 2 436 swartsakke vullis opgetel, 61 vragte rommel weggery en 10 hektaar gras gesny. AfriForum se Heilbron-tak het ’n kontrakteur aangestel om weekliks te help om dié dorpie op te knap. Padmerke is reeds op plekke geverf en Kerkstraat is skoongemaak.

Soortgelyke plasings