|

AFRIFORUM SE PRIVAATVERVOLGINGSEENHEID KRY GROENLIG VIR BOTSWANA-SAAK

Deur Marthinus Koekemoer

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het vandag aangekondig dat die regering van Botswana sy span amptelik gevra het om hulle met voorverhoorverrigtinge in die vervolging van Welheminah Mphoeng Maswabi by te staan. Sy staan tereg op aanklagte van onverklaarbare besit van eiendom en die aflê van ’n vals verklaring oor ‘n paspoort. Sy verskyn tans in die streeklanddroshof in Gabarone.

Daar is verder bewerings dat Maswabi terrorisme gefinansier het deur geld te verskuif wat gekoppel kan word aan die voormalige spioenhoof in Botswana, Isaac Kgosi.

Bridgette Motsepe-Radebe, die vrou van oudminister Jeff Radebe en skoonsuster van president Cyril Ramaphosa, word ook in die media daarvan beskuldig dat sy, saam met Maswabi, ’n mede-ondertekenaar was van rekeninge ter waarde van miljarde pula.

“Die saak is vandag in die hof in Gabarone aangehoor waarna ons gevra is om met die voorverhoorverrigtinge te help,” sê Nel. “Ons sal deeglik ondersoek instel en bepaal of daar ’n sterk genoeg saak is om Maswabi te vervolg.”

Nel en adv. Phyllis Vorster is verlede jaar deur die regering van Botswana aangestel om sy versoek vir wedersydse regshulp in dié saak met die Suid-Afrikaanse regering te fasiliteer. Die regering van Botswana het ’n aansoek aan die regering van Suid-Afrika gerig om met die proses te help, maar het nie ’n antwoord ontvang nie. Nel se span meen dit was opsetlike optrede aan die kant van die Suid-Afrikaanse regering.

“Die oponthoud kan nie verduidelik word nie en het reeds veroorsaak dat sekere klagtes teen Maswabi laat vaar moes word,” sê Nel. “Die regering van Botswana het reeds in September 2019 die Suid-Afrikaanse regering genader vir wedersydse regshulp.”

Nel is uitgevra oor die uitdagings wat hy en sy span sal moet oorkom om met die saak in Botswana te help. “Ek voorsien nie enige probleme nie aangesien die regstelsel in Botswana grootliks met ons regstelsel ooreenstem.

“Dis ’n eer dat die regering van Botswana ons gevra het om hulle te help. AfriForum is nie ’n politiese organisasie nie en kan dis onafhanklik en onpartydig optree. Ons wil help om toe te sien dat geregtigheid ook internasionaal geskied.”

Die privaatvervolgingseenheid het in Desember 2020 bekend gemaak dat die Departement van Justisie en Korrektiewe Dienste versuim het om die mandamusaansoek te opponeer wat ten doel het om dié departement te dwing om die wedersydse regshulp aan die Botswana-regering te verleen. Die aansoek is op die ongeopponeerde hofrol geplaas vir 7 Julie 2021.

Die regering van Botswana sal AfriForum se privaatvervolgingseenheid se koste vir hul betrokkenheid dek.

Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid

Soortgelyke plasings