|

AfriForum staan slagoffer by ná Grace Mugabe glo aanrand

Die jong model wat beweer dat sy in die naweek deur die Zimbabwiese presidentsvrou, Grace Mugabe, met ’n koord in ’n hotelkamer in Sandton aangerand is, gaan deur AfriForum bygestaan word.

Gabriella Engels (20) het vandag reeds trauma-berading gekry ná die voorval waarin sy ’n wond aan haar voorkop opgedoen het.

Caty van der Merwe van AfriForum Trauma, het gesê die slagoffer leef nou in vrees en is bang om die openbaar te verskyn. Dit is belangrik dat sy bygestaan word.

Dit is glo nie die eerste keer dat die presidentsvrou haar aan beweerde aanranding skuldig maak nie. Luidens mediaberigte het sy haar in die verlede al by minstens vier geleenthede oorsee te buite gegaan.

In Singapoer het sy tydens ’n besoek saam met pres. Robert Mugabe haar vir joernaliste vererg, hulle na bewering ook aangerand en hul selfone in ’n dammetjie gegooi.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê AfriForum het besluit om Engels by te staan in belang van geregtigheid. Hy het gesê ’n lasbrief moet vir Mugabe se inhegtenisneming uitgereik word. “Mugabe moenie toegelaat word om die Suid-Afrikaanse regstelsel op dieselfde wyse te ondermyn as wat sy en haar man, Robert Mugabe, met die Zimbabwiese regstelsel doen nie. As Mugabe soos ’n voortvlugtende wil optree, moet sy soos een behandel word. Niemand is onaantasbaar nie en niemand is bo die wet verhewe nie,” sê Kriel.

Kriel het bygevoeg dat geweld teen vroue totaal onaanvaarbaar is en dat Engels ’n rolmodel vir ander vroue is deur op te staan vir wat reg is. Hy het gesê daar kan nie toegelaat word die slagoffer nou as die oortreder uitgebeeld word nie.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die burgerregte-organisasie se privaatvervolgingseenheid, het op ’n mediakonferensie gesê die eenheid is juis gestig om te help toesien dat daar gelykheid voor die reg is. “Niemand, ook nie Grace Mugabe nie, moet toegelaat word om die reg te omseil weens hulle magsposisie nie.”

Nel het gesê daar is kommer oor hoe die polisie die saak tot dusver gehanteer het. Die familie word onder meer glad nie op hoogste gehou van die ondersoek nie.

Hy het gesê dit het tot gevolg dat die familie ook sekondêre trauma ervaar. Veral ook in die lig van die feit dat hulle geld deur ’n derde party aangebied is om die kwessie te skik en “die saak te laat weggaan”.

Nel gaan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se hantering van die saak monitor en indien die NVG sonder grondige redes versuim om Mugabe te vervolg, sal AfriForum die moontlikheid van privaat vervolging oorweeg. Hy gaan ook skrywes aan die SAPD en die NVG stuur waarin hy vra dat die saak so spoedig moontlik verder gevoer word. “Sou hulle dit nie doen nie, is daar ‘n besliste moontlikheid om private vervolging in te stel. Ek hoop egter dat die polisie en NVG sal doen wat hulle moet doen,” het Nel gesê.

Hy het gesê hy meen drie maande is ’n redelike tyd om te wag dat vervolging moet plaasvind.

Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, het aangedui dat hy reeds ‘n skrywe aan die departement van internasionale betrekking gestuur het waarin hy hulle daarop wys dat daar nie grondige redes bestaan om diplomatieke immuniteit aan Mugabe toe te staan nie. “Sou die departement steeds voortgaan om diplomatieke immuniteit aan Grace Mugabe toe te staan, sal AfriForum die saak tot in die hoogste hof beveg.”

Spies het gesê diplomatieke immuniteit kan nie gebruik word om vervolging vir ernstige oortredings te probeer ontduik nie.

Engels se ma, Debbie, het aangedui dat hulle op geen manier die aanrandingsklag teen Mugabe gaan laat vaar nie. “Ons weet dat dit ’n moeilike stryd gaan wees, maar ons is dankbaar vir die mense wat ons nou bystaan.”

Engels het gesê Mugabe moet aanspreeklik gehou word vir wat sy aan haar kind gedoen het.

Soortgelyke plasings