|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het die afgelope maand verskeie watertoetse in onder meer die Vaalrivier uitgevoer nadat toetse wat vroeër gedoen is, positief getoets het vir cholera. Die uitslae het aangedui dat daar op sewe plekke cholera in die water is. Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, is die uitslae kommerwekkend omdat soveel mense in Suid-Afrika daagliks water uit die Vaalrivier gebruik en daarom moet dit beter gemoniteer word.

AfriForum se Besigheidsbytjies-span het Solidariteit Helpende Hand se Ons Sentrum in Pretoria besoek as deel van hierdie entrepreneurskompetisie se leierskapsontwikkeling en entrepreneursopleiding.

Nadat lede van die SAPD se BBP-beskermingseenheid ’n motoris en sy passasiers in Gauteng aangerand het, het AfriForum geëis dat ’n dringende ondersoek van stapel gestuur word. AfriForum verwelkom egter dat die SAPD reeds ’n ondersoek na die voorval begin het, maar is van mening dat hierdie gedrag kenmerkend van hierdie eenheid geword het. 

Landwyd het AfriForum se takke skouer aan die wiel gesit met hul projekte en selfdoenaksies.

AfriForum se Krugersdorp-tak en lede van die Krugersdorp-brandweer het op 1 Julie in Oatlands 23 brandkrane oorgeverf en nagegaan nadat twee huise in Oatlands afgebrand het omdat die brandkrane nie duidelik gemerk en sigbaar was nie. Vyf krane wat herstel moet word, is ook geïdentifiseer.

Die jeuglede van AfriForum se Piet Retief-tak het ’n bakkievrag vol klere aan die Lighuis-gemeente geskenk om aan behoeftige gesinne in die dorp uit te deel. Die buurtwag in dié dorp het ook hul sigbaarheid verhoog deur meer lede te laat patrolleer.

AfriForum se Standerton-tak het in samewerking met Lekwa Clean Up Crew verskeie skoonmaakprojekte aangepak en ook slaggate gevul.

In Nelspruit het die tak die staproetes en park in die Steiltes-natuurreservaat skoongemaak. Vyf kilometer se staproetes is oopgesny en ’n voetgangerbrug is herstel.

Die Benoni-tak het ’n omgewingsakedag by die Benoni Homestead Dam gehou om bewusmaking te skep oor besoedeling, stropery en gesondheid. 250 mense het dié dag bygewoon en gehelp om rondom die dam skoon te maak. Meer as een ton teer is ook gebruik om slaggate te vul.

Die AfriForum-tak in Klerksdorp het namens inwoners en taklede beswaar aangeteken by die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit nadat ’n aansoekkennisgewing opgerig is om 4 702 erwe op die dele van die plaas Palmietfontein 403 te ontwikkel. Alhoewel AfriForum nie gekant is teen ontwikkeling nie, moet behoorlike openbare deelname prosesse gevolg word.

Die Vryburg-tak het in Junie drie leë erwe, twee oop velde en ses sypaadjies skoongemaak as deel van hierdie tak se volhoubare projek wat vroeër vanjaar begin is.

AfriForum se Alfa-buurtwag in die Overstrand het in samewerking met AfriForum se Bravo-buurtwag in Fisherhaven, Overstrand-wetstoepassing en die SAPD gehelp om ’n gesteelde voertuig in Hawston op te spoor. Dié buurtwag het ook verskeie verdagtes, wat by ander misdaadaktiwiteite betrokke was, vasgetrek en aan die SAPD oorhandig.

Soortgelyke plasings