|

AfriForum-tak hou optog oor water, ruim dorp op én steun plaaslike skool – álles binne net een maand!

Heilbronners het dalk te kampe met talle probleme – maar by dié plaaslike AfriForum-tak is verveling nie een daarvan nie. Tussen ’n protesaksie teen watertekorte, opruimingsaksies en die oprigting van ’n groentetonnel by Hoërskool Heilbron was daar gedurende Mei geen kans vir stilsit nie en dié tak het weer eens bewys hoe ’n gemeenskap kan veg én bou.

Volgens Gerrie Muller, voorsitter van die Heilbron-tak, fokus die tak op volhoubare projekte wat werklik ’n verskil in dié dorp en sy mense se lewe maak. “Selfdoen vorm ’n belangrike komponent van ons aksies en met projekte soos die groenteprojek by Lentehofkoshuis word ’n waardevolle selfdoen-ingesteldheid ook onder jongmense gekweek,” verduidelik hy.

“Hierdie tak is op soveel verskillende maniere betrokke in die gemeenskap en maak werklik ’n verskil,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder in die Mooirivierstreek. “Die tyd vir wag dat dinge moet gebeur, is verby en AfriForum se Heilbron-tak se projekte verklaar keer op keer ‘Ons sal self’.”

Projekte waarby die Heilbron-tak in Mei betrokke was, sluit in:

  • Protesaksie oor waterprobleme

Die tak het op 8 Mei deelgeneem aan ’n protesoptog na die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se kantoor om hul stem te laat hoor oor die ernstige watertekort wat in en om Heilbron ondervind word. Dié tekort spruit uit Rand Water se toepassing van watervermindering vanweë die munisipaliteit se wanbetaling. Hoewel protesgangers gereed was om ’n memorandum aan die burgemeester, Victoria de Beer, te oorhandig, het sy nie opgedaag om ontstoke inwoners se klagtedokument te ontvang nie. In reaksie hierop, het die AfriForum-tak ’n petisie van stapel gestuur om by die Vrystaatse premier, Mxolisi Dukwana, aan te dring op dringende ingryping by die Ngwathe-munisipaliteit en om De Beer uit haar amp as burgemeester te laat verwyder. Voortgesette minagting van inwoners se behoeftes en swak dienslewering word as redes vir dié eis aan Dukwana voorgehou.

  • Selfdoen-tonnelprojek

’n Groentetonnel is aan Hoërskool Heilbron geskenk en gedurende Mei by die Lentehofkoshuis opgerig. Die tonnel sal ingespan word vir landbouvakke se praktiese lesse en die groente-oes sal vir koshuisdoeleindes gebruik word. Die projek sal egter nie net tot die voordeel van die leerders strek nie, maar aangesien beoog word om alle oortollige plaasvars produkte aan die plaaslike aftreeoord te skenk, sal bejaardes ook die vrugte van jonges se arbeid kan pluk.

  • Skoonmaakaksie vir ’n skoner Heilbron

Die Heilbron-tak het in Mei verskeie skoonmaakaksies aangepak en onder meer ’n terrein voor die aftreeoord in Langmarkstraat en ’n erf langs die munisipaliteit getakel. Gras is gesny en rommel is opgeruim en ’n totaal van 27 halftonsakke vullis en gras is uiteindelik verwyder.  

Soortgelyke plasings