|

AfriForum se Springs-tak skenk verf aan Ekurhuleni Metro se paaie-afdeling

AfriForum se Springs-tak het onlangs hulp aangebied nadat gemeenskapslede versoek het dat die padstrepe in Ermelostraat tussen Witweg en Clydesdale weer duidelik sigbaar geverf moet word. Die afwesigheid van hierdie padtekens het ’n gevaar vir padgebruikers ingehou aangesien die bane op die pad byna onsigbaar was.

Nadat kontak gemaak is met die departement in die Ekurhuleni Metro wat verantwoordelik is vir die instandhouding van paaie in die Springs-omgewing, is daar bevestig dat daar ’n tekort aan verf is. Die Metro het egter verseker dat hulle die verfwerk aan hierdie pad sal prioritiseer.

AfriForum se Springs-tak het hulp aangebied en die padverf en benodigdhede om die verfwerk te doen aan die Paaie-afdeling geskenk. Dié afdeling het onmiddellik oorgegaan tot aksie en ’n beduidende deel van die verfwerk is reeds op 6 November voltooi.

“Dit is altyd ’n suksesresep wanneer die gemeenskap en plaaslike munisipale dienste saamwerk om oplossings te vind en ’n verskil in die gemeenskap maak. Die sukses kan ook toegeskryf word aan elke AfriForum-lid in die Springs-omgewing wat deur hul bydraes die Springs-tak in staat gestel het om ’n impak in hul eie gemeenskap te maak,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Die Springs-tak nooi gemeenskapslede uit om betrokke te raak by hul plaaslike AfriForum-tak om deel te wees van die oplossing. Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings