|

Nóg slagoffers van Tshwane Metropolisie-skurke neem standpunt in teen magsmisbruik

AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig nou nóg vier slagoffers in sake teen beamptes van die Tshwane Metropolisie wat beskuldig word van misdade waaronder roof, ontvoering en aanranding. Johnson Lebombo en Aubrey Phalane het vandag in die Pretoria-landdroshof verskyn. Lebombo, Phalana en Makgoba Ramokshakga is die beskuldigdes in verskeie sake waar die eenheid ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag optree.

Hierdie nuwe sake dateer sover as 2017 terug en is onder meer by die polisiekantore in Erasmia, Olievenhoutbosch en Garsfontein aangemeld. Die drie verdagtes word ook na verneem word ondersoek in verskeie interne dissiplinêre sake wat verband hou met soortgelyke aantygings. Hulle is van diens geskors.

Die eenheid het voorheen ook saam met Grandi Theunissen, die Tshwane-burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, gestaan teen die skurke in die Tshwane Metropolisie. “Die privaatvervolgingseenheid staan sterk in die stryd teen korrupsie en die misbruik van magte deur wetstoepassers,” sê Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid.

“Lede van die publiek moet die regte ding doen en na vore kom om te verseker dat diegene wat hul magsposisies misbruik om hulself te verryk uiteindelik aan die pen ry. Die eenheid sal voortgaan om slagoffers van hierdie tipe misdade te ondersteun.”

Die saak is uitgestel tot 7 Maart 2024 sodat die verdediging hul verteenwoordiging aan die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings kan voorlê.

Soortgelyke plasings