|

AfriForum-tak in Viljoenskroon nou slaggereed vir aksies

Die AfriForum-tak in Viljoenskroon is nou slaggereed om ’n groot verskil in dié drop te maak. Die tak se bestuur is uiteindelik voltallig en bestaan uit die volgende lede: Attie Barnard (waarnemende voorsitter); Jaco Scheepers (ondervoorsitter en plaaslikeregeringsake), Lynne Griesel (sekretaris), MG van Niekerk (tesourier), Francois Vos (omgewingsake), Koos Nienaber (plaaslikeregeringsake) en Neels van Staden (veiligheid).

Hierdie wenspan het onlangs toerusting, waaronder bossiekappers, ’n saag, besems, harke en kegels, aangekoop om daarmee ’n daadwerklike verskil in Viljoenskroon te maak. Hierdie toerusting word saam met AfriForum-bemarkingsmateriaal in ’n oulike waentjie vervoer wat die tak ook aangekoop het.

Daar word beplan om hierdie toerusting op Saterdag 20 April om 07:00 met ’n skoonmaakprojek op die hoek van Denyssen- en Piet Retiefstraat, oorkant die ouetehuis, in te wy. Daardie stuk grond hou ’n veiligheids- en ’n gesondheidsrisiko vir inwoners in.

“Ons het hierdie toerusting aangekoop om werklik ’n verskil in Viljoenskroon te maak vir alle inwoners. Daarom sal dit baie lekker wees as elke inwoner betrokke kan raak sodat ons hierdie dorp weer ’n spogdorp kan maak,” sê Attie Barnard, waarnemende voorsitter van AfriForum se Viljoenskroon-tak.

“Die entoesiasme van hierdie takbestuur is werklik aansteeklik en ek kan net hoop dat hulle die gemeenskap se ondersteuning sal geniet. Ons sal self, maar ons kan nie alleen nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Indien jy by hierdie AfriForum-tak wil betrokke raak, kontak vir Barnard by 082 557 1428.

Soortgelyke plasings