|

AfriForum eis dat BGSEB-status as voorwaarde vir watergebruikslisensie-aansoeke onmiddellik geskrap word  

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag met skok kennis geneem dat ’n aansoek om ’n watergebruikslisensie op die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se aanlyn platform vir lisensieaansoeke, slegs verwerk kan word indien die aansoeker aan die vereistes van breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BGSEB) voldoen. Daarsonder is dit onmoontlik om met die aansoek voort te gaan.

AfriForum gaan daarom vandag ’n dringende versoek aan Senzo Mchunu, die minister van DWS, rig om ’n onmiddellike regstelling te maak, omdat hierdie voorwaarde onwettig is en in stryd staan met die bepalings van die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998). Sou hy nie onmiddellik gehoor gee aan hierdie versoek nie, sal AfriForum ’n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) aanhangig maak.

Ingevolge artikel 27 van die Nasionale Waterwet is die regstelling van historiese rassediskriminasie een van verskeie faktore wat deur die owerheid in die beoordeling van ’n watergebruikslisensieaansoek oorweeg moet word. Dit is egter nie ’n bepalende faktor of belangriker as enige van die ander faktore wat as ’n geheel oorweeg moet word nie. Faktore soos openbare belang, die doeltreffendheid van die beoogde watergebruik en die uitwerking van die beoogde gebruik op waterhulpbronne moet ook oorweeg word.

“Deur dit onmoontlik te maak om aansoek te doen vir ’n watergebruikslisensie tensy die aansoeker aan BGSEB-status voldoen, word die rasse-aspek tot die belangrikste verhef. Só word daar byvoorbeeld outomaties teen ’n wit familieboer gediskrimineer en word dié boerdery uitgesluit van waterlisensie-aansoeke,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.   

Gesien teen die agtergrond van die mees onlangse voorgestelde wysigings aan waterwetgewing (waardeur daar onder meer gepoog word om transformasiedoelwitte op die watersektor af te dwing, maar wat eers aan ’n behoorlike openbare deelnameproses onderwerp moet word), is dié verwikkeling ’n blatante poging van die regering om die oppergesag van die reg te misken.

“Op ’n tyd wat die bestuur van die land se waterhulpbronne reeds ’n krisispunt bereik het, moet die DWS eerder ’n poging aanwend om hul mees basiese verpligtinge na te kom as om hul mislukte transformasiebeleid ten alle koste af te dwing,” sluit De Vaal af.

Die DWS se aanlyn waterlisensieplatform kan besigtig word by https://www.dws.gov.za/ewulaas/.

Soortgelyke plasings