AfriForum Teater ondersteun kindervermaak in Afrikaans

AfriForum Teater is trots om deel te wees van ’n splinternuwe projek waar ou Afrikaanse FAK-liedjies afgestof en nuut gemaak is sodat die jongspan dit opnuut weer kan geniet.

Hierdie opwindende projek genaamd Die Rakkers is vandag geloods ter viering van Internasionale Moedertaaldag. Die Rakkers sing ou gunstelinge soos Hoedjies van papier, Hansie Slim, Wielie Walie, Dis heerlike lente en Saai die waatlemoen. Die groep bestaan uit Nadia Beukes, Lee Scott, Hendri Myburgh en Pulane Nel-Sekepe en elke lid van die groep verteenwoordig ook ’n kleur – rooi, geel, blou en groen,– wat bydra tot die opvoedkundige waarde van die projek.

Die bekroonde internasionale vervaardiger, Vaughan Gardiner wat ook ’n pa van twee woelwaters is, is verantwoordelik vir die musikale- en stemverwerkings, asook die finale meng van Die Rakkers se opname vanuit Dubai terwyl Ferdinand Skead die kunstenaars plaaslik opgeneem het.

“Wat ’n wonderlike manier om Afrikaans op Internasionale Moedertaaldag te vier,” sê Carien Bloem, teaterbestuurder van die AfriForum Teater.

“AfriForum Teater het sonder skroom besluit om deel te word van dié opwindende nuwe projek wat goeie gehalte Afrikaanse kindervermaak skep. Ons voel saam met die kunstenaars sterk oor die nalatenskap wat ons vir ons kinders in ons pragtige taal Afrikaans los. Om ou bekende FAK-liedjies af te stof en nuut te maak vir die jongspan was in die kol. Die voortbestaan van Afrikaans, ongeag die genre, sal altyd vir AfriForum Teater belangrik wees,” sê Salet Smith, hoof van AfriForum Teater.

Die Rakkers se eerste keurspel is van vandag af op digitale platforms beskikbaar en ook op AfriForum Teater se sosialemediaplatforms. Hou gerus AfriForum Teater se Facebook- en Instagram-blad dop vir Die Rakkers.

Klik op dié skakel om na die keurspel te luister: https://bit.ly/DieRakkersIsHier

Soortgelyke plasings