|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Florida

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 21 Februarie by die Laerskool Florida besoek afgelê.

Hierdie veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap – nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik. Die doel van hierdie praatjie is om leerders te bemagtig. Leerders van die intersenfase (graad 4-7) is ook meer ingelig oor die gevare van kuberafknouery,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Ons is baie dankbaar vir AfiForum se besoek aan Laerskool Florida. Ons is bewus van die realiteit en daarom is die bewusmaking van boeliegedrag en stragegieë om dit te hanteer belangrik vir die skool. Omdat elke leerder hier ’n naam het en nie net ’n nommer is nie, is ons verantwoordelik vir hul emosionele welstand. Die program was ook aan Christelike waardes gekoppel en dit is vir ons as skool baie belangrik, omdat ons Christelike waardes uitleef,” sê Cornel Mouton, onderwyseres by die Laerskool Florida.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings