|

AfriForum Teater vier 1 000 dae

Die gesegde lui tyd vlieg as ’n mens jouself geniet en die eerste 1 000 dae van AfriForum Teater het beslis gevlieg. Dié teater se deure is op 3 Maart 2021 geopen tydens die Covid-19-pandemie, maar met groot name en gehalteproduksies wat weekliks in die teater te sien was, het AfriForum Teater ’n instelling vir veral die Afrikaanse kunste in Pretoria geword. Die teater se 1 000 dag-mylpaal is vandag met glasie wyn en die violis Scheppel gevier.

“AfriForum Teater is geopen om ’n bymekaarkomplek in die gemeenskap te wees, om ’n professionele platform daar te stel vir die kunste en om Afrikaans te bevorder. Gemeet aan die positiewe reaksie van teatergangers en die terugvoer oor die teater se tegnici wat by produksies betrokke is, sou ek sê ons het in hierdie doelstelling geslaag,” sê Carien Bloem, bestuurder van AfriForum Teater.

Carien Bloem en Salet Smith vier ‘n 1 000 dae by AfriForum Teater.

Tot op hede is meer as 100 000 kaartjies vir vertonings by AfriForum Teater verkoop. Meer as 19 000 mense het in 2022 Die Gelofte: ’n Musiekblyspel tydens ’n ses weke speelvak gekyk. Van die grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf insluitend Amanda Strydom, Steve Hofmeyr en Jannie du Toit het al in die teater opgetree. Sandra Prinsloo, Lizz Meiring en Frank Opperman is van die bekende akteurs wat in produksies by AfriForum Teater verskyn het.

Die teater het ook ’n gewilde saamkomplek vir skole geword. Skole het hul eie produksies by die teater op die planke gehad en AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatkompetisie is ook al hier aangebied. In Desember 2022 is daar ook in samewerking met die pianis Rocco de Villiers meer as R70 000 vir die Bramley Kinderhuis ingesamel.

Nog ’n veertjie in AfriForum Teater se hoed is dat dit in 2022 die Momentum Beleggings Aardklop Nasionale Kunstefees se grootste kunste lokaal was. Die teater het ook as ateljee gedien toe die nuwe seisoen van die immergewilde komediereeks van Pieter en Willie Esterhuizen Vetkoek Paleis vanjaar opgeneem is.

Oor die volgende maand of twee kan teatergangers by AfriForum Teater uitsien na optredes van onder andere Riana Nel, Jakkie Louw, Charlize Berg en Bobby van Jaarsveld.

Die violis Scheppel het by AfriForum Teater se 1 000 dag viering opgetree.

“Ons is baie opgewonde oor die volgende 1 000 dae en meer. Ons beoog om ons netwerke en verhoudings met ander kuns- en kultuurvennote verder uit te bou. Puik kliëntediens is ook iets waarop ons ongelooflik trots is en ons wil dit nog verder uitbou,” sluit Bloem af.

Om meer oor AfriForum Teater uit te vind of om kaartjies vir ’n vertoning te koop, besoek www.afrifoumteater.co.za.

Soortgelyke plasings