|

AfriForum waarsku Rand Water oor vermindering in watervoorsiening weens geen betaling

AfriForum se regspan het vandag aanmaningsbriewe aan Rand Water, asook die Emfuleni-, Govan Mbeki-, en Victor Khanye plaaslike munisipaliteite gerig oor vermindering in watervoorsiening nadat dié munisipaliteite versuim het om hul waterrekeninge te betaal.

Rand Water het op 26 September 2019 kennisgewings aan dié munisipaliteite uitgereik nadat geen betaling ontvang is nie. AfriForum se regspan het versoek dat dié burgerregteorganisasie deel van die gesprekke vorm omdat inwoners wat hul rekeninge betaal onregverdig benadeel word. Tot op hede skuld die drie munisipaliteite saam sowat R670 miljoen.

“Toegang tot water is ’n grondwetlike reg. Gemeenskappe mag nie gyselaar gehou word weens die wanbestuur van staatsentiteite nie. Gemeenskappe moet ook ingelig word oor besluite wat op munisipale vlak geneem word, want dit is uiters belangrik om te weet watter ooreenkomste die munisipaliteit sluit,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van plaaslikeregeringsake.

AfriForum versoek ook ’n afskrif van enige ooreenkoms wat tussen die partye aangegaan is, om te verseker dat die partye daarvolgens optree. Aangesien dit as dringend beskou word, gun AfriForum die partye vyf dae om op sy skrywe te antwoord.

“Dit is onaanvaarbaar dat drie munisipaliteite so baie geld aan Rand Water skuld. Die vraag wat gevra moet word, is hoe hulle in hierdie skuld beland het. Die staat moet ’n skuldinvorderingsproses begin om dié geld terug te kry. Dit is onregverdig dat die inwoners van daardie munisipaliteite – wat hul rekeninge getrou betaal – nou benadeel word weens die onvermoë van die munisipaliteite om hul pligte na te kom,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van omgewingsake.

Soortgelyke plasings