|

AfriForum woedend oor elke gestorwe boer – stryd sal voortgaan

 

Deur Alet Rademeyer

Sowat 500 ondersteuners van AfriForum het vandag vreedsaam in Senekal aan ’n protesoptog teen plaasmoorde deelgeneem waar Sekwetje Mahlamba en Sekola Matlaletsa, die vermeende moordenaars van Brendin Horner, in die hof verskyn het.

Terwyl die EFF en die ANC uitdagend in die strate rondom die hof gedreunsing en slagspreuke geskreeu het, het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, ’n boodskap gebring dat mense met reg oor plaasmoorde en geweld kwaad is.

“Ons mag ons misnoeë en woede wys, maar ons moet ook alles in ons vermoë doen om onsself binne die raamwerk van die wet te beskerm. Ons mag onsself bewapen en ons moet by veiligheidstrukture aansluit.”

Kriel het gesê daar is reeds goeie vordering die afgelope paar jaar gemaak. AfriForum het nou 157 buurt- en plaaswagte,  12 000 vrywillers, 5 300 radio’s, 61 herleiers en 14 hommeltuie om te help om misdaad te bekamp. Die organisasie het ook ’n trauma-eenheid wat slagoffers bystaan.

“Ons het ’n verantwoordelikheid om onsself te beskerm. Dit moet in elkeen van ons se huise begin. Ons sê vandag reguit ons is nie bang nie. Ons is egter nie die aggressors nie en tree met selfbeheersing op.

“Ons kan onsself verdedig. Ons retireer nie. Maar ons moet weet as ons skiet, skiet die voor ons ook.”

Kriel het verwys na die internasionale steun wat AfriForum teen plaasmoorde kry wat die ANC en EFF kwaad maak. “Ons moet aanhou om ons boodskap uit te dra.”

Soks Masoka, uitvoerende hoof van die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa), het by AfriForum se byeenkoms gesê hy haal sy hoed af vir elke mens wat vandag hier is. “Ons almal se harte is seer oor die jongman se dood. Dood en aanranding op ons plase het nie kleur nie. Ons almal se beeste en diere word gesteel. Ons boere moet saamstaan en sê: “Genoeg is genoeg”.

Masoka het ’n dringende beroep op die regstelsel gedoen. “Die verdagtes is hegtenis geneem, hou op met uitstelle van die saak, vervolg en vonnis oortreders en gooi die sleutel weg.

Masoka sê wit en swart boere is op hul eie. “Ek wil vir Cele (minister Bheki Cele) sê sy polisie moet begin om hul werk te doen en op te hou om deel van diefstalsindikate te wees.

“As ek so rondkyk, sien ek boere en kinders van God. Laat ons hande vat as boere van die Vrystaat en die land. Onthou, die kos op jou tafel vanaand is gemaak deur wit en swart boere. Die regering moet ons uitlos en ’n omgewing skep waarbinne boere kan werk. Ons sal die ekonomie optel. Die wit en swart boere van die land.”

Met verwysing na duisende EFF-ondersteuners in Senekal, het Masoka gevra wat hulle hier soek. “As julle nie saam met  ons kom staan het om die diefstal en moorde op boere te stop nie, hoort julle nie hier nie. Wie is julle om die regering te kom verdedig….”

Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai, het gesê boere sal hulle nie laat intimideer nie. “Ons het ’n reg om hier te wees en ons mag vrae vra oor die aanvalle en moorde op boere.”

De Jager het herhaal dat nie een boer sy grond gesteel het nie en het teenstanders gewaarsku dat hulle nie die land se beeld moet afbreek nie.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, meen daar is ’n verbysterende ooreenkoms tussen die bestaande krisis en dit wat boere aan die Oosgrens beleef het voor die Groot Trek.

Hy het gesê plaaslewe en boerdery is ’n leefwyse. Boere se swaarkry, is almal se swaarkry. Diegene wat in stede bly, is afhanklik van dit wat boere produseer. “Ons wil vir ons boere sê, ons staan by julle. Elke boer wat sterf, het ’n kettingreaksie tot gevolg.”

Buys het voorts gesê veiligheid en voorspoed word bepaal deur vryheid. “Vryheid is noodsaaklik vir die instellings waardeur jy moet leef. Ons geslag se uitdaging is om praktiese oplossings vir ons uitdagings te kry. Afrikaners is deur eeue gebrei deur uitdagings van Afrika waaronder politieke krisisse, stryde, armoede en droogtes. Ons het geleer om te oorleef en voluit te leef. Ons is gestaal en toegerus om in enige omstandighede sukses te behaal. Die skat van ons taal, kultuur en leefwyse word deur ons volk uitgedra.”

Ds. Schalk Strauss van die AP Kerk, het in sy boodskap gesê hoewel die grond vandag ten hemele skreeu oor die onregte wat in die land plaasvind, is daar steeds dinge wat vasstaan. “Ons word sterk in die krag van die Here en nie deur getalle en ideologie nie. Die onreg stuit ons teen die bors, maar ons hou vas en bly glo aan ’n regverdige God. Ons innerlike krag om in moeilike omstandighede met wysheid op te tree, kom van Hom af.”

Kriel het afgesluit en gesê die Slag van Vegkop het vandag in 1836 plaasgevind. “Ons voorgeslag het nie omgedraai en teruggekeer Kaap toe nie. Hulle het voortgegaan in geloof. Die Here gebruik ons vandag nog as instrumente. Ons moet trots op onsself wees en in hoop leef.”

Soortgelyke plasings