|

Afrikaners hier om te bly én te bou

In ’n gesamentlike verklaring van verskeie organisasies wat nagenoeg twee miljoen mense verteenwoordig is die boodskap duidelik dat Afrikaners in Suid-Afrika hier is om te bly en aan ’n beter land vir almal wil bou. Die Afrikaner Verklaring is vandag deur organisasies soos AfriForum, die Solidariteit Beweging, die Afrikanerbond, Saai, Neasa en die FAK tydens ’n geleentheid by die Voortrekkermonument onderteken. Dié verklaring spruit uit gesprekke tussen die verskeie Afrikaner-organisasies, -leiers, -netwerke en individue wat sedert 2021 gereeld vergader het om oor Afrikaners se toekomstige rol en plek in die land te besin.

’n Padkaart vir die voortbestaan van Afrikaners aan die suidpunt van Afrika word in dié verklaring uitgestippel. Drie hoofdoelwitte is uiteengesit om die ruggraat van die pad vorentoe te vorm. Die eerste hiervan is dat daar gevra word dat alle Suid-Afrikaners moet kennis neem van die gesindheid en goeie trou van Afrikaners. Tweedens is die hoop om met soveel moontlik ander Afrikaner-organisasies saam te werk en derdens om ’n kultuurverdrag met die regering te sluit wat tot voordeel van die land en al sy mense sal wees.

Dr. Theuns Eloff, fasiliteerder van die geleentheid wat ook die verklaring onderteken het, sê dit het ’n rukkie geneem om die verklaring op te stel. “Hierdie verklaring verteenwoordig die grootste eenheid onder Afrikaners vir baie dekades. Daar is natuurlik kompromieë aangegaan in die verklaring om meer mense in te sluit, maar daar is ook nog ruimte om meer mense in te sluit.”

Eloff sê ook dis teleurstellend dat die regering in onkunde gereageer het toe hulle gesê het die verklaring is onnodig. Hy merk ook dat die positiewe reaksie onder City Press-lesers daarop wys dat baie ander Suid-Afrikaners die geleentheid wil aangryp om met Afrikaners saam te werk.

Dr. Theuns Eloff

Flip Buys, hoof van die Solidariteit Beweging, sê gesprekke met die Thabo Mbeki-stigting was die beginpunt van die verklaring. Hy sê verskillende groepe gaan nie noodwendig oor alles saamstem nie, maar dat dit nie beteken dat daar nie saamgewerk kan word op areas waaroor daar wel saamgestem word nie.

“Ons wil eintlik net normaliteit hê, want met al die uitdagings in die land het ons dit nie nou nie. Daar is ’n duidelike gaping tussen die grondwetlike beloftes wat in 1994 gemaak is en die uitkoms waarmee ons 30 jaar later sit. ’n Mens gaan nie noodwendig iets van bo kry nie, maar dit verhoed ons nie om van onderaf te bou nie. Daar word dikwels gesê ons gaan nie toestemming van die regering kry om te doen wat ons wil doen nie, maar ons gaan nie noodwendig vooraf vir toestemming vra nie. Dis beter om ná iets reeds gedoen is, erkenning daarvoor te kry.”

Die Afrikaner Verklaring bespreek verder 12 kernsake waaronder ekonomiese bemagtiging, samewerking in die belang van almal se vryheid, veiligheid en voorspoed, asook Afrikaners as inheemse kultuurgemeenskap verbind aan Afrika.

Lees die volledige verklaring hier.

Soortgelyke plasings