|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het die afgelope week op verskeie maniere stem dik gemaak om die regte van minderheidsgroepe te beskerm. Dit was ook ’n woelige week vir die burgerregteorganisasie se takke wat met volhoubare projekte ’n verskil in hul dorpe gemaak het.

’n Afvaardiging van AfriForum het die afgelope week deur middel van voorleggings aan verskillende komitees van die Verenigde Nasies (VN) in Switserland voorspraak gemaak vir minderheidsgroepe in Suid-Afrika. Kwessies van diskriminasie en haatspraak is veral uitgelig. Die Suid-Afrikaanse regering het byvoorbeeld sedert die ANC aan bewind gekom het meer as 116 stukke rassewetgewing ingestel.

Die ANC-regering moes bontstaan toe die VN se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) hulle met vrae oor plaasmoorde en die sing van die dreunsang “Kill the Boer” gepeper het. Dit volg ná AfriForum ’n verslag aan CERD voorgelê het wat onder meer plaasmoorde ingesluit het.

Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van Openbare Betrekkinge

AfriForum het vandeesweek die nuwe Nasionale Polisiebeleid (NPP) as flou met oppervlakkige oplossings beskryf. Volgens dié burgerregteorganisasie worstel Suid-Afrika tans met ’n omvangryke openbare veiligheidskrisis wat ’n ernstige bedreiging vir die kernbeginsels van sy grondwetlike demokrasie inhou en boonop ’n reusenegatiewe impak op die ekonomie het. AfriForum meen ’n federale aanslag met die desentralisering van polisiemagte is nou noodsaaklik.

Inligting is deur AfriForum bekom wat aandui dat ’n beduidende aantal polisielede onbevoeg is om ’n vuurwapen te hanteer. Regulasies is reeds verslap wat beteken SAPD-lede hoef net een keer elke vyf jaar vir vuurwapenbevoegdheid getoets te word. Voorheen is hierdie toetse jaarliks gedoen, maar selfs met die langer tydperk tussen toetse dui die inligting wat AfriForum bekom het dat die SAPD steeds nie op datum met die toetse is nie. Finansiële beperkings en duidelike wanbestuur blyk die hoofredes vir die agterstand met die toetse te wees.

Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid

Die konsep Nasionale Waterwysigingswetontwerp wat onlangs in die Staatskoerant aangekondig is gee ernstige rede tot kommer, sê AfriForum. Dit bevat ’n aantal foute, teenstrydighede en onregmatige bepalings. Dit volg kort op die hakke van vroeëre omstrede pogings van die Departement van Waterwese wat rassekwotas vir watergebruik wou instel, maar ter elfder uur voorgestelde regulasies teruggetrek het. Daar kan nog tot 16 Januarie 2024 op die nuwe wetgewing kommentaar gelewer word wat opsigself ’n baie kort periode is om genoegsame ondersoek in te stel en kundige insette te bied.

AfriForum se Bethal-tak se groentetuinprojek is nog volstoom aan die gang. Hierdie jaar het die tak reeds twee ton groente uit hierdie tuin geoes. Daar is onlangs 200 kg spinasie uit die tuin geoes. Hieruit is skenkings aan die Silwerjare Tehuis en die Bethal Sopkombuis gemaak.

Bethal se groentetuinprojek het al twee ton groente in 2023 gelewer.

Die buurtwag van AfriForum se Walker Drive-tak in Port Elizabeth het nog ’n sukses behaal toe hulle ’n verdagte persoon in ’n plaaslike inwoner se erf betrap het. Patrolleerders het die verdagte persoon opgemerk en Atlas- en Citywide Security ontbied wat binne minute ondersteuning gebied het. Die verdagte is gearresteer.

Soortgelyke plasings