|

Afrikanerstigting op die been gebring om internasionale steun vir Afrikaners te mobiliseer

Die Afrikanerstigting, ’n inisiatief van die Solidariteit Beweging, is vandag in Centurion bekendgestel en is daarop gemik om steun vir Afrikaners in Suid-Afrika vanuit die buiteland te mobiliseer. Die hoop is onder meer om ’n finansiële inspuiting van buite die grense van Suid-Afrika te kry wat die Beweging in staat sal stel om sy aktiwiteite plaaslik uit te brei.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het tydens die bekendstelling gewys op die uitdagings wat Suid-Afrika tans ervaar en die moontlike oplossings daarvoor belig.

“President Ramaphosa verwys na hoe goed die regering na burgers omsien na gelang van die aantal mense wat een of ander vorm van toelaag by hulle kry. Dis nou al amper die helfte van Suid-Afrikaners wat ’n toelaag by die regering ontvang, maar eintlik is dit ’n aanduiding van hoe die regering nie daarin slaag om werk te skep nie.

“Baie jongmense wil oorsee gaan, maar ons glo daar is ’n toekoms hier. Ons beskerm wat ons kan en bou waar ons moet en so leef een geslag vir die volgende een. Die verval van staatsdienste het oor die laaste 10 of 15 jaar versnel en gemeenskappe moet selfdoen terwyl organisasies dienste lewer wat eintlik die staat se werk is.”

Buys meen daar moet met swart gemeenskappe saamgewerk word en dat dit moontlik gemaak moet word vir Afrikaners om in die land te bly én te floreer. Hy het verwys na hoe mindersheidsgroepe in ander lande ook stigtings gebruik het om hul gemeenskappe te ondersteun.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging

Jaco Kleynhans, hoof van Internasionale Skakeling by die Solidariteit Beweging, het by Buys aangesluit deur te sê daar moet ’n rede wees vir jong Afrikaners om in Suid-Afrika te wil bly. Volgens hom moet die diaspora gemobiliseer word om sukses te behaal en streef die Afrikanerstigting daarna om nuwe alliansies aan te gaan en vriendskapsbande in die buiteland te smee.

Jaco Kleynhans, hoof van Internasionale Skakeling by die Solidariteit Beweging

Die uitvoerende direkteur van die Afrikanerstigting, Ernst Roets, meen dis tyd dat Afrikaners weer hul plek in die internasionale gemeenskap inneem.

“Afrikaners was as’t ware vir ’n tydperk die stiefkind van die Westerse Wêreld, maar Afrikaners word nou weer herontdek. Afrikaners moet dus weer hul plek internasionaal inneem, omdat ons iets het om te bied. Die Afrikanerstigting wil samewerking met instellings in die buiteland bevorder en beleid beïnvloed wat handel met Suid-Afrika bevorder. Daar lê nog baie werk vir ons voor,” het hy tydens die bekendstelling gesê.

Afrikaner.org is reeds aan die gang en meer inligting oor die Afrikanerstigting is hier  beskikbaar. Die eerste episode van die Afrikanerstigting se nuwe podgooireeks, The Pioneer Podcast, is reeds op dié platform beskikbaar. Dit is juis in Engels opgeneem om ’n breër buitelandse gehoor te bereik. Donasies kan deur die webwerf gemaak word en daar is selfs ’n geleentheid om ’n werwer vir die Afrikanerstigting te word.

Soortgelyke plasings