|

Solidariteit kondig oplossings vir kragkrisis aan

Die oplossing vir die land se elektrisiteitskrisis is op die dak van elke huis.

Só meen Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI).

Die SNI het vandag ’n omvattende verslag vrygestel waarin die omvang van die kragkrisis belig en verskeie oplossings voorgestel is.

Een van die oplossings is dat soveel moontlik kleinskaalse kragopwekkers op grootskaal tot kragopwekking moet toetree. ’n Beroep is op kleinskaalse opwekkers gedoen om in hul duisende aansoek te doen vir opwekkingspermitte. Dit is in reaksie op die wysiging aan die regulasies vir grootskaalse privaat kragopwekking. Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër aangekondig dat tot 100 MW sonder ’n lisensie en met ’n permit opgewek kan word.

Solidariteit beplan self om deur die ontwikkelingsmaatskappy, Kanton, waarvan Solidariteit die grootste aandeelhouer is, by kragopwekking betrokke te raak.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê mense, ook Solidariteit se lede, se werk en inkomste word op grootskaal vernietig deur die kragkrisis en probleme waaronder Eskom gebuk gaan.

Benewens die voorstel dat kleinskaalse kragopwekking op grootskaal gedoen moet word, behels die ander oplossings die dringende opleiding van vakmanne, tegnici en elektriese ingenieurs om in die groeiende behoefte van die land te voorsien. Voorts word aanbeveel dat alle groot instansies soos winkelsentrums, skole, universiteite, groot maatskappye, ontwikkelaars en entrepreneurs ook aansoek moet doen om krag op te wek (deur byvoorbeeld sonkrag) en dit te versprei en te verkoop.

Solidariteit gaan ook die aansoekproses vir permitte om krag op te wek by Nersa fyn dophou en ingryp indien daar onnodige bottelnekke of vertragings is. Indien nodig sal ’n regsproses gevolg word om dit uit die weg te ruim.

Laastens sal Solidariteit alles in sy vermoë doen om te verseker dat die situasie by Eskom stabiliseer aangesien ’n energielandskap sonder Eskom nie realisties haalbaar is nie. In die verband sal die name van kundiges wat gereed staan om Eskom te help, weer aan hulle verskaf word.

“Dit is nou ’n kwessie dat die krag van die gemeenskap groter as die krag van die staat moet wees en daarin is ’n stuk vryheid gesetel wat mens ook hoop gee,” sê Hermann.

Hermann sê dit is tragies dat die politieke wil ontbreek om die land se kragkrisis op te los. “Boonop is dit gewone, arm Suid-Afrikaners wat die swaarste hierdeur geraak word, terwyl daar ’n elite-groep is wat voordeel trek uit die 27%-premie op swartbemagtigingstransaksies by Eskom. Dit beteken die elite word met tussen R12 en 14 miljard per jaar verryk, terwyl miljoene Suid-Afrikaners ly. As net hierdie bedrag uitgehaal word, hoef Eskom nie meer bakhand te staan by belastingbetalers nie,” sê Hermann.

Mulder meen die land wag nou al vir 15 jaar dat die elektrisiteitskrisis opgelos moet word. Daar kan nie ’n dag langer gesloer word nie.

“Dis tyd om die tenderpreneurs uit die pad te kry en die weg van honderde ander lande te volg wat kragkapasiteit geskep het deur kleinskaalse opwekking. Viëtnam is ’n voorbeeld van ’n land wat van groot energietekorte na energieoorskotte gegaan het bloot deur die strategie waar die monopolie van staatsbeheerde opwekking gebreek is en private en veral kleinskaalkragverskaffers toegetree het.”

Mulder sê die land sal van nou tot 2035 bykans net soveel krag uit die privaat sektor moet opwek as wat die ganse Eskom nou doen. “Die krisis word vererger omdat Suid-Afrika 22 000 MW se opwekkingskapasiteit gaan verloor omdat steenkoolkragstasies tussen nou en 2035 die einde van hul leeftyd gaan bereik.”

Volgens Mulder is die land se opwekkingskapasiteit tans 9,7% laer as in 2012, terwyl die bevolking met meer as 8 miljoen gegroei het.

Soortgelyke plasings