|

AKADEMIA SE OPVOEDKUNDEFAKULTEIT GROEI MET SPLINTERNUWE B ED-PROGRAM

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Akademia het pas aangekondig dat BEd (intermediêrefase-onderwys) vanaf 2022 by dié groeiende privaat hoëronderwysinstelling voltyds aangebied sal word.

Dis geen geheim dat onderwys tans een van die grootste struikelblokke tot sosio-ekonomiese ontwikkeling in Suid-Afrika is nie. Daarom is dit belangrik om boompies jonk te buig, veral met intermediêrefase-onderwys, omdat leerders in hierdie grade groot oorgange in baie vakke maak.

Volgens prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, was dit daarom juis vir Akademia ’n strategiese besluit om hierdie kwalifikasie, wat toegespits is op die opleiding van onderwysers vir grade 4 tot 6, te ontwikkel en aan te bied. “Navorsing toon dat ’n groot persentasie laerskoolonderwysers nie oor voldoende vakkennis beskik nie. Daarbenewens het Akademia ’n toenemende aantal navrae vir ʼn kwalifikasie in intermediêrefase-onderwys ontvang.”

Graduandi van hierdie kursus sal wiskunde, Afrikaans en Engels, asook ʼn keusevak soos sosiale wetenskappe, lewensvaardighede of natuurwetenskappe tot en met graad 7 kan aanbied. Dié kwalifikasie is by die Departement van Hoër Onderwys geakkrediteer en is by die Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid geregistreer. Verder stel hierdie kwalifikasie studente in staat om uiteindelik as professionele onderwysers by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SARO) te registreer.

“Die BEd-studente gaan pioniers wees wat in hulle moedertaal help skryf aan ʼn nuwe hoofstuk in onderwysgeskiedenis in Suid-Afrika, wat op Christelike grondslae en Westerse erfenis in Afrika geanker is,” vertel Du Toit.

Wat is die toelatingsvereistes?

Voornemende studente moet ’n minimum van 50% vir onderskeidelik wiskunde, Engels en Afrikaans vir toelating tot studie hê. Du Toit benadruk ook dat dié studierigting ’n hartsbesluit is en dat die ideale studenteprofiel ’n besonderse liefde vir mense en kinders moet hê, nuuskierig moet wees en ’n dienende leier moet wees.

Dié nuwe toevoeging tot Akademia se Fakulteit Opvoedkunde word ook voltyds by die Centurion-kampus in Pretoria aangebied en kan oor ʼn minimum van vier jaar voltooi word. Voornemende studente kan ook uitsien na ’n aktiewe kampuslewe met verskeie sport- en kultuuraktiwiteite, studenteverenigings en ander sosiale geleenthede.

Du Toit vertel dat hierdie gesogte kwalifikasie deur professore en vakkundiges landswyd ontwikkel is om onderwysers te lewer wat aanpasbaar vir die vinnig veranderende en tegnologies gevorderde onderwysomgewing is. “Ons oogmerk by Akademia is om leerders se praktiese, grondliggende en refleksiewe vaardighede te ontwikkel sodat hulle oor die vermoë sal beskik om konsepte, idees en aksies te integreer in outentieke, werklike kontekste. Ons studente word voorberei om lewenslange leerders te wees ten einde tred te hou en leiding te neem in die snelveranderde onderwysomgewing.”

Studieaansoeke vir die kursus is reeds oop. Vir meer inligting oor die kwalifikasie, besoek www.akademia.ac.za, of woon die kampusopedag op Vrydag 3 September by. Besprekings vir die opedag kan ook op die Akademia-webblad gemaak word.

*Hooffoto: Marthinus Visser, besturende direkteur, en dr. Maretha Steyn, programkoördineerder van BEd (intermediêrefase-onderwys) tydens ʼn aankondigingsfunksie om die nuus van die nuwe Akademia-kwalifikasie te vier. Foto: verskaf.

Soortgelyke plasings