|

Bailliepark-inwoners sê slaggate die stryd aan

Die inwoners van Bailiepark in Potchefstroom het besluit genoeg is nou genoeg. Die afgelope naweek het 20 inwoners slaggate in dié area uit die weggeruim. Hierdie slaggate was van só aard dat dit ’n risiko vir inwoners geword het.

Verteenwoordigers van AfriForum, Bailieparkgemeenskapsprojek (BPGP) en Kleinplaas Pype het saamgewerk en deur die loop van die oggend 80 slaggate met 80 sakkies teer (2 ton) gevul. Slaggate is in die volgende strate gevul: Neethling-, Rocher-, Richardson-, Steyn-, Republiek- en Roseltstraat.

BPGP het ’n finansiële bydra gelewer vir teer en Kleinplaas Pype het dié teer op die regte plekke afgelewer. Die AfriForum-tak het ook teer aangekoop en gehelp met toerusting en mannekrag vir hierdie enorme taak. Die waarde van die teer is R10 800.

Inwoners van Bailliepark kan steeds geld in die teerrekening by Kleinplaas inbetaal. Sodra daar weer teer beskikbaar is, sal die span verder gate herstel. Sekere dele van die strate, soos Republiekstraat, is egter in ’n toestand wat van so aard is dat dit nie meer herstel kan word nie.

“Ek is baie trots op die gemeenskap wat hande gevat het en só ’n wesenlike verskil in Bailliepark gemaak het. Een organisasie gaan dit nie alleen regkry nie, maar saam is ons sterker. Ek wil in besonder dankie sê vir die AfriForum-buurtwag se Alfa-groep, wat regtig baie hard gewerk het om hierdie gate toe te kry. Ek sien uit daarna dat ander buurte ook sal hande opsteek en dat ons ook daar kan begin werk,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder in die Mooirivier.

Raak by Potchefstroom se AfriForum-tak en -buurtwag betrokke en help om jou omgewing veilig te hou. Kontak vir Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om aan te sluit.

Soortgelyke plasings