|

Boomplantmaand: AfriForum dra by tot ’n groener toekoms

Die AfriForum-tak in Lichtenburg het op 1 en 2 Oktober 14 bome by verskeie skole in Lichtenburg geplant as deel van dié burgerregteorganisasie se jaarlikse boomplantmaandprojek.

Volgens Sampie Steinberg, AfriForum se assistentkoördineerder vir Marico, het AfriForum vanjaar nagenoeg 2 500 bome landwyd geplant.

“Deur inheemse bome te plant bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Stefan Niemand, voorsitter van AfriForum se Lichtenburg-tak.

AfriForum fokus jaarliks op ’n boomspesie wat algemeen voorkom sowel as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig sy lede aan om inheemse bome te plant wat in hul onderskeie omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Lichtenburg onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” meen Gerhard Nieuwoudt, voorsitter van die jeugvleuel van AfriForum se Lichtenburg-tak.

Die tak moedig die gemeenskap aan om deurgaans inheemse bome in hul dorp te plant en deel te wees van ’n groener toekoms.

Soortgelyke plasings