|

Viljoenskroon-tak takel strate as deel van #OnsDorp-veldtog

Die AfriForum-tak in Viljoenskroon het op 15 Junie weggespring met hulle #OnsDorp-projek, wat hoofsaaklik in Junie en Julie bedryf word. Woensdag het Senator Senekalstraat aan die beurt gekom en al die stoptekens is vervang, die strepe is geverf, die padmerkers by die kruisings is geverf, die straat is skoongevee en die lastige boomtakke is afgesny. Verder is twee stoptekens in beide Haveman- en Mareestraat vervang en die padmerkers by die stoptekens is ook geverf. Hier en daar is daar ook ’n klein slaggat gevul.

Hierdie opknappingswerk is nie net nodig om die dorp beter te laat lyk nie, maar dit is ook lewensgevaarlik, veral vir besoekers aan die dorp, as daar nie verkeerstekens en padmerkers is nie. Die AfriForum-tak in Viljoenskroon beplan om elke Woensdag ’n straat of twee onder hande te neem en so ’n merkbare verskil in die dorp te maak.

Die tak wil ook graag lede van die gemeenskap bedank vir hulle donasies om hierdie werkery moontlik te maak: Inteligro vir die bome wat gesny is en die state gevee; Kobus en Marne Vermeulen en die Rotariёrs wat padverf geskenk het; die Hansie Muller-groep vir die skoonmaak en vee van die strate; Pieter Dumini en Hinterland vir koeldrank; Willie Conradie vir hulp met skoonmaak en Ben Olivier en Boet Wienand vir teer.

“Dit was ’n voorreg om die afskop van hierdie projek by te woon en te sien met hoeveel entoesiasme die mense hulle dorp wil verbeter. Om in ’n straat af te kyk en dis oop en skoon en daar is strepe en stoptekens, is lankal nie meer ’n gegewe nie, maar iets wat ’n mens maar self moet doen. Ek wil spesiaal vir die takbestuur, wat almal hulle eie werke het en tyd kon vind om te kom help, hartlik dankie sê. Vir Willie en Lynne Griesel, wat die hele projek organiseer en baie skenkings gemaak het, het ek groot waardering. Ek is seker dat met so ’n gemeenskap, Viljoenskroon weer die spogdorp gaan word wat dit was,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by AfriForum betrokke te raak. SMS “Viljoenskroon” na 45344 (R1) om betrokke te raak. Kontak vir Lynne Griesel by 082 611 9776 om ’n skenking te maak.

Soortgelyke plasings