|

Brandkrane se waterdruk veroorsaak byna katastrofe in Bloem-brand

Onvoldoende waterdruk in brandkrane in die Skipskop-landbouhoewes buite Bloemfontein het gister amper vir ’n katastrofe gesorg. AfriForum se privaat brandweerdiens in Bloemfontein, AfriForum Brandweer, en die Mangaung-brandweer kon egter innoverend te werk gaan om te verseker dat die drie huise wat in vlamme opgegaan het, nie geheel en al vernietig is nie.

Drie aangrensende huise het gistermiddag in ligte laaie gestaan nadat ’n veldbrand eers ’n lapa en daarna die drie wonings laat vlamvat het.

“Die swak waterdruk het nooddienswerkers se taak aansienlik bemoeilik, maar terwyl die munisipale brandweer water uit ’n swembad kon pomp, het die gemeenskap ingespring en ook gehelp om water aan te ry,” verduidelik Tarien Cooks, rampbestuurspesialis van AfriForum.

Ten spyte van die uitdagings wat ondervind is, het AfriForum Brandweer en die Mangaung-brandweer ná sowat vyf ure daarin geslaag om die brand finaal te blus.

“Die wonings het redelike skade gely weens die brand, maar nooddienste kon gelukkig daarin slaag om te verseker dat die huise nie totaal in puin gelê word nie. Die flinke optrede van en goeie samewerking tussen AfriForum Brandweer en die plaaslike munisipale brandweerdiens, het hier weer gesorg vir ’n sukesverhaal waarin skade beperk kon word,” sê Cooks.

Sy benadruk egter dat watervoorsiening ’n kritieke komponent in die lewering van brandweerdiens is en in sommige gevalle die verskil tussen lewe en dood kan beteken. AfriForum het onlangs ’n landwye brandkraanoudit onderneem om onder meer die sigbaarheid, instandhouding en funksionering van brandkrane te bepaal. Volledige bevindinge van dié oudit sal binnekort bekendgemaak word.

Bloemfonteiners word aangemoedig om aan te sluit by AfriForum en sodoende gratis lidmaatskap by AfriForum Brandweer te kry. Besoek www.afriforumbrandweer.co.za.

Soortgelyke plasings