|

Kaapstad-Noord-buurtwag neem deel aan nasionale patrollie

Die AfriForum-buurtwag in die noordelike voorstede van Kaapstad, wat Kraaifontein, Bellville, Parow, Goodwood en Brackenfell insluit, het op 14 en 15 Oktober aan ’n massapatrollie in hul onderskeie gebiede deelgeneem. Die hoofdoel van die patrollie was om sigbaarheid te verhoog in die onderskeie gebiede en sodoende misdaad teen te werk. Die aksie het omstreeks 19:00 begin en tot 00:30 die volgende oggend voortgeduur.

Die bestuur van die Kaapstad-Noord-buurtwag, die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die plaaslike SAPD het die vorige week besluit om ’n groot inisiatief te loods in ’n poging om die sigbaarheid van patrollies te verhoog, om die patrollies effektief uit te voer en om misdaad ’n harde knou in die noordelike voorstede van Kaapstad toe te dien.

Die aand het met ’n saamtrek van al die rolspelers in ’n parkeerarea in Bellville begin. Altesaam 135 lede van onder meer AfriForum se Kaapstad-Noord-buurtwag, die plaaslike SAPD, Kaapstad-metropolisie, die plaaslike GPF en sekuriteitsmaatskappye, het saam te voet Voortrekkerweg gepatrolleer en ’n aantal misdadigers gearresteer. Later die aand het meer as 200 lede met voertuie woonbuurte en misdaad geteisterde gebiede gepatrolleer. Altesaam is drie arrestasies gemaak en meer as R50 000 se boetes is vir verskeie verkeersoortredings uitgeskryf.

“Hierdie is ’n bewys van wat gemeenskappe kan bereik wanneer hulle teen misdaad saamstaan. Dit is in die hande van gemeenskapslede om hulself te beveilig en ons AfriForum-buurtwagte is een van hierdie strukture at daarmee kan help,” sê Johan Crous, distrikskoördineerder vir die Boland.

SMS “Boland” na 45353 (R1) om vandag nog by jou naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings