|

Daar is belangriker redes as tradisie vir openbaarmaking van matriekuitslae

’n Mens kan maklik die Departement van Basiese Onderwys se besluit om nie vanjaar se matriekuitslae in die media te publiseer nie, afmaak as ’n onbenulligheid omdat daar tog belangriker kwessies in die land is wat aandag moet geniet.

Mense mag selfs redeneer dat dit nie meer so belangrik is nie omdat die gebruik van hoofstroom-media aan die taan is en dat die klas van 2021 hul uitslae op ander platforms soos die departement se webtuitste kan kry.

Dit sal egter verkeerd en selfs naïef wees om só ’n standpunt te huldig.

Daarom behoort daar steun te wees vir AfriForum, Maroela Media en Anlé Spies (’n 2021-matrikulant) se dringende aansoek om Angie Motshekga, die Minister van Basiese Onderwys, en die departement se besluit teen te staan.

Een van die heel belangrikste redes wat die algemene publiek nie uit die oog moet verloor nie, is dat indien die departement die alleenreg het om te besluit oor die publisering van die uitslae, dit maklik presies dieselfde optrede is wat die ANC-regering op talle ander terreine probeer regkry, naamlik die sentralisering van mag. Dít moet ten alle koste gestuit word.

Die departement kan nie agter die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, 4 van 2013 (die sogenaamde POPI-wet) skuil om hierdie irrasionele besluit te regverdig nie. “Slegs leerders se eksamennommers word op mediaplatforms gepubliseer, met ander woorde leerders se persoonlike inligting of identiteit word op geen wyse sonder hul toestemming bekendgemaak nie.

“In ’n demokratiese land moet inligting (binne die perke van die reg) tog vrylik beskikbaar wees en dit is iets wat die departement ook behoort te ondersteun,” sê Natasha Venter, bestuurder vir onderwysregte by AfriForum.

Natuurlik is daar ook ander redes wat ’n mens kan opper, soos dat dit jaarliks ’n groot geleentheid is waar die publiek, skole en ouergemeenskappe kan deel in die vreugde van derduisende matrikulante wat hul skoolloopbaan suksesvol afgesluit het. Dit is sekerlik ook gepas om eer te bring en erkenning te gee aan dié matrikulante wat baie hard gewerk het om goeie uitslae te behaal.

Dit is nie ’n goeie argument om te sê die uitslae moet nie meer openbaar gemaak word nie, omdat dit leerders sal verneder wat nie goed gevaar het nie. Dit is die beloop van die lewe en natuurlik moet hulle wat nie so goed gevaar het nie, aangespoor word om weer te probeer en om ondanks terugslae nie moed te verloor nie. Dit is egter ’n ope vraag of leerders enigsins negatief geraak word, aangesien die bekendmaking deesdae op grond van ’n enkele (eksamen)nommer gedoen word waardeur feitlik niemand geïdentifiseer kan word nie.

Die departement kan nie agter die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, 4 van 2013 (die sogenaamde POPI-wet) skuil om hierdie irrasionele besluit te regverdig nie.

Een aspek waaroor daar ook dalk meer duidelikheid vanaf die departement se kant moet kom, is of die departement nog in staat is én oor die nodige kapasiteit en kundigheid beskik om die uitslae elektronies aan mediahuise beskikbaar te stel, en of die POPI-wet nie nou sommer ’n baie handige verskoning vir sekere gebreke is nie.

Die aansoek word môre in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria aangehoor voordat die matriekuitslae op 20 Januarie 2022 bekendgemaak word.

Soortgelyke plasings