|

Die Kaplyn ’n verhaal wat diep aanraak en inspireer

Die Kaplyn is ’n splinternuwe musiekblyspel wat van 26 April by AfriForum Teater op die planke is. Teatergangers kan hulself regmaak vir nog ’n uitstekende blyspel uit die pen van die skrywers van Die Gelofte: ’n Musiekblyspel.

Die Kaplyn, wat handel oor die gebeure tydens die Grensoorlog in die 1980’s, is ’n storie vol lewenslesse, gesinne se opofferings en daar is ’n sterk fokus op die verhoudings tussen gesinslede.

Forum Nuus het tydens ’n kleedrepetisie ’n draai by die teater gemaak en die akteurs is dit eens dat hierdie net so ’n goeie blyspel is soos sy voorganger.

Volgens Jannes Erasmus, skrywer en regisseur van Die Kaplyn, gaan mense wat van Die Gelofte gehou het, nog meer van Die Kaplyn hou. “Dit is ’n onderwerp waarmee baie mense kan vereenselwig en ons het dit goedgedink om dit te vermeng met die Bybelse verhaal van die verlore seun. Dit is werklik gesinsvermaak.” Erasmus sê ook Die Kaplyn is ’n metafoor en hy wil vir die gehoor vra wat is jou kaplyn? Wat is jou oorlogstryd?

Jacomien de Wet, musiek- en liriekskrywer en akteur in Die Kaplyn, sê die doel was om weer soos met Die Gelofte, met die gehoor se hart te praat en nie net te vermaak nie. “Ek dink dit is ’n verhaal wat baie mense diep gaan aanraak en inspireer. Daar is ’n doel agter die storie wat vir baie mense iets gaan beteken.”

Teatergangers kan ook uitsien na splinternuwe komposisies, asook ’n nuwe verwerking van die lied Die Kaplyn, wat Johan Vorster en Sean Els spesifiek vir Bok van Blerk geskryf het. Daar is ook ’n lied van Jan de Wet wat deur Sonja Herholdt bekendgemaak is wat die verlange uitbeeld wat daardie tyd gevoel is.

“Ons het 12 oorspronklike liedjies geskryf en ’n wye verskeidenheid style word vermeng in die produksie. Daar is iets vir elkeen en dit is die tipe musiek wat in jou kop gaan vassteek. Die eerste bedryf is vol opgewekte liedjies en jy het geen idee wat volgende gaan gebeur nie. Mense gaan lag, diep voel en trane afvee,” sê Vorster, skrywer en akteur.

Hulle wil ook met Die Kaplyn die mense – die helde wat tussen ons beweeg – wat tydens die Grensoorlog diensplig gedoen het, vereer.

Ilán van Staden, wat soos in Die Gelofte ’n hoofkarakter vertolk, sê hy is dankbaar AfriForum en Inhoud Huis Musiek het weer hande gevat om hierdie musiekblyspel te vervaardig. “Ek vertolk die rol van Ben jnr., die voorbeeldige seun in die gesin wat vir sy broer (die swart skaap in die gesin) ’n goeie voorbeeld probeer stel en hom weer op die regte pad probeer kry. Die Kaplyn het ’n verwysing na die verlore seun en hoe ’n mens altyd kan terugdraai na die oop arms van die Vader. Ons is baie opgewonde om hierdie produksie aan die publiek bekend te stel.”

Nog ’n bekende gesig van Die Gelofte, Jackie Lulu, sê dit is heerlik om weer op die AfriForum Teater-verhoog te wees en om weer saam met die vervaardigerspan van Die Gelofte aan Die Kaplyn te werk.

“Hierdie musiekblyspel was vir my ook ’n leerskool veral omdat ek nie hierdie deel van ons geskiedenis geken het nie – ek het op skool musiek as ’n vak geneem eerder as geskiedenis. Ek dink hierdie is iets waarvan almal moet weet en wat ’n mens moet kom beleef.”

Vir Abel Knobel, wat ook een van die hoofrolle vertolk, is dit ’n persoonlike saak aangesien sy pa spesifiek deel was van die gespesialiseerde mag waaroor die verhaal handel. Dit is ’n baie hartroerende verhaal en tesame met die opvoedkundige rol wat ons het oor die geskiedenis van daardie tyd, wil ons ook daardie generasie vereer wat hul lewens opgeoffer het, sê hy.

Die Kaplyn is van 26 April tot 21 Mei by die AfriForum Teater te sien en kaartjies is by www.diekaplyn.com beskikbaar.

Soortgelyke plasings