|

Eskom ploeter voort, maar Gwede spring weer valbyl vry

Nes ’n mens dink die ANC-regering het dalk die spreekwoordelike lig gesien, fisiese ligte brand deesdae mos maar min, vind ’n mens uit dat die gerugte verkeerd was dat Gwede Mantashe, minister van Minerale Bronne en Energie, voor die nasionale dissiplinêre komitee moet verskyn.

Alhoewel Mantashe, Zizi Kodwa, minister van Sport, Kuns en Kultuur, en Thabang Makwetla, adjunkminister van Verdediging en Militêre Veterane, in die Zondo-kommissieverslag by ongerymdhede betrek word en hulle aanvanklik nie beskikbaar was om voor die ANC se integriteitskommissie te verskyn nie en dus na die nasionale dissiplinêre komitee verwys moes word, is hulle oor die hoof gesien. Hulle het, volgens Fikile Mbabula, sekretaris-generaal van die ANC, intussen wel voor die integriteitskommissie verskyn. Daar sal dus na alle waarskynlikheid niks verder van dié drie se misdrywe kom nie.

Nie om Kodwa en Makwetla die nodige krediet te gee nie, maar hulle gaan sukkel om kers vas te hou by die vermoë van Mantashe om ’n staatsentiteit in die grond in te bedryf.

Daar word berig dat André de Ruyter, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, in ’n dokument wat virtueel aan parlementslede voorgelê gaan word, gesê het hy het die diefstal by Eskom onderskat toe hy gesê het dit beloop omtrent R1 miljard per maand. Voorts het sy pogings om maatreëls in plek te stel om korrupsie by Eskom hok te slaan interne weerstand gekry.

Mantashe hou daarvan om ander die skuld gee vir die dinge wat by Eskom fout is. Mantashe het natuurlik al vir De Ruyter die skuld gegee vir Eskom se probleme, maar beurtkrag het sedert De Ruyter in Februarie by Eskom klaargemaak het aanhoudende hoë vlakke bereik.

Eskom se probleme het ook al lank voor De Ruyter se aankoms daar begin en sal nog jare ná hy weg is nie opgelos word nie.

Die Solidariteit Navorsingsinstituut sê die regering se planne om privaat opwekking aan die kragnetwerk te koppel, is doodgebore indien die transmissie-infrastruktuur nie tred hou by die uitbreidings nie. In die Noord-Kaap, waar sonkragaanlegte gewild is, kan daar reeds nie nuwe aanlegte aan die netwerk gekoppel word nie. Dieselfde geld vir die windkragprojekte in die Oos-Kaap.

Die Navorsingsinstituut beraam R72,2 miljard moet oor die volgende vyf jaar belê word om 2 890 km nuwe hoëspanninglyne en 60 nuwe transformators van 26 970 megavolt-ampère op te rig. As De Ruyter se skatting van die vlak van diefstal by Eskom min of meer akkuraat is, is dit so eenvoudig soos om diefstal vir ses jaar stop te sit en die geld sal genoeg wees. Ongelukkig is die korrupsiekrane te wyd oop en sal dit nooit gebeur nie. Mantashe sal ook nie uitgeskop word nie.

Waar laat dit die gewone Suid-Afrikaner? Vir dié met genoeg inkomste is dit moontlik om sonpanele by hul huis aan te bring om die impak van beurtkrag te versag, maar vir die oorgrote meerderheid lê daar nog baie donker jare voor.

Soortgelyke plasings