|

Bloemfontein-buurtwagte help veldbrand blus

AfriForum se Bloemfontein-buurtwagte het op 23 April gehelp om ’n veldbrand op ’n plaas naby Pellissier in Bloemfontein onder beheer te bring.

Dit volg nadat buurtwagte omstreeks 12:53 ’n boodskap op hul brandspan-groep ontvang het dat ’n veldbrand op die plaas Brandkop uitgebreek het en dat hulp benodig word. Die Pellissier-buurtwag, bekend as Sektor 5, is ook verwittig deur ITR-sekuriteit en die Fichardtpark Woonbuurtvereniging omdat AfriForum brandspanne binne hul buurtwagstrukture het.

Die buurtwag het dadelik hul brandspanne ontbied, terwyl AfriForum se lugvleuel gehelp het om brandpunte uit te wys en die brandspanne via radiokommunikasie na dié betrokke areas te stuur. Ongeveer 108 hektaar van die plaas het afgebrand en die vuur naby aan die woonbuurt is vinnig geblus. Om 17:00 was die vuur onder beheer en lede het onttrek.

“AfriForum se Bloemfontein-buurtwagte het lede wat opgelei is om in hierdie situasies hulp aan verskeie rolspelers, insluitend die brandweer, te verleen. Die aankoop van brandbestrydingtoerusting bemagtig ons buurtwagte om ons gemeenskappe veiliger te hou. Dankie aan al AfriForum se brandspanne, die Mangaung-metro se brandweer, die Leeuwberg- landelike vereniging, die betrokke brandverenigings, die boerevereniging en lede van die gemeenskap vir hul hulp,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

“Ek wil graag die boere en kleinhoewe-eienaars in die omgewing aanmoedig om by hulle plaaslike brandvereniging aan te sluit om sodoende die korrekte prosedures te volg wanneer hulle beheerde brande uitvoer en brandpaaie maak om verwoesting te vermy. Ek moedig ook die gemeenskap aan om by hul plaaslike AfriForum-tak aan te sluit en ’n verskil te maak,” sluit Groenewald af.  

Klik hier om by AfriForum se buurtwagte betrokke te raak.

Soortgelyke plasings