|

Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek ’n dokumentêr bekendgestel waarin viktimisering van kinders en wanbestuur by Netbal Suid-Afrika (SA) onder meer blootgelê word. ’n Verslag oor die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is ook bekendgemaak waarin die tekortkominge en reuse-impak op belastingbetalers uiteengesit word.

Verskeie rolspelers wat in AfriForum Sport se jongste Netbal SA-dokumentêr verskyn, maak ernstige aantygings van viktimisasie, wanbestuur en ander misdrywe teen Cecilia Molokwane, president van Netbal SA, of ander persone onder haar toesig. Daar word ook vertel hoe geld uit ’n rekening verdwyn het terwyl ’n persoon met bande aan Molokwane tekenreg op die rekening gehad het. Kyk die dokumentêr hier.

AfriForum het ook hierdie week ’n verslag bekendgemaak waarin ooglopende gebreke in die voorgestelde NGV uitgewys word. Wat veral die oë laat rek, is die beoogde wyses waarop die NGV befonds gaan word. Vier modelle wat ’n negatiewe effek op belastingbetalers sal hê, word voorgestel wat onder meer een insluit waar belasting direk van salarisse verhaal sal word om die NGV te befonds.

“NGV word maklik verkeerd opgesom met slagspreuke soos ‘gratis gesondheidsorg vir almal’, maar die verslag gee ’n tree terug om ’n meer nugter en objektiewe beeld te verkry, naamlik dat die beleid duur, ongemotiveerd en onwerkbaar is,” sê Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum.

Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum

AfriForum is ná maande se gesloer as ’n belanghebbende en geaffekteerde party geregistreer in Tenbosch Mining (Edms) Bpk. se aansoek om mynregte vir mynbou-aktiwiteite aan die suide van die Nasionale Krugerwildtuin te bekom Dit het aan die lig gekom dat Tenbosch steeds voortgaan met hul aansoek alhoewel ’n vorige omgewingskonsultant verlede jaar aangekondig het dat Tenbosch hul aansoek teruggetrek het. AfriForum het ook kommentaar rakende verskeie onreëlmatighede in die omgewingsimpakstudie ingedien.

Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum

AfriForum Jeug versoek in ’n skrywe dringend antwoorde van die Universiteit van Pretoria (UP) nadat dit bekendgemaak is dat die UP die klagtes teen die EFF Student Command van die UP (EFFSC UP)-kandidate teruggetrek het en ’n tydelike studentekomitee gaan aanwys. Daar word onder meer gevra watter proses gevolg is om by dié besluit uit te kom. Die EFFSC UP maak hulself gereeld skuldig aan haatspraak en intimidasie.

Dit was ook ’n besige week vir AfriForum se takke. Die Springs-tak het verf aan die Ekurhuleni Metro se paaie-afdeling geskenk wat die Metro dadelik aangewend het om padmerke duidelik te verf. Dit volg ná die afdeling by die Ekurhuleni Metro wat vir die instandhouding van paaie verantwoordelik is te kenne gegee het dat hulle nie genoeg verf het nie.

AfriForum se Springs-tak het verf aan die Ekurhuleni Metro se paaie-afdeling geskenk.

Die protospan van AfriForum se Bo-Karoo-tak in Orania het die plaaslike gemeenskap, die SAPD en Orania Veiligheidsdienste gehelp om na diewe te soek wat spilpunte se kabels gesteel het. In die Oos-Kaap het die Elliott-tak bome by die Hillview Primêre Skool geplant en die Groter-Moot-tak in Pretoria se buurtspan het in Oktober 142 geelsakke rommel weggery, nege bakkie- en sleepwavragte tuinvullis weggery en drie vragte grond uit stormwaterpype verwyder. Die buurtwaglede het ook 60 patrollies gery waarin hulle amper 1 000 km afgelê het. Die Noord van die berg-tak in Pretoria het in Oktober 760 km afgelê om hul volhoubare en ander skoonmaakprojekte te voltooi.

Soortgelyke plasings