|

Skryf nóú in vir die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie

Entrepreneurs van regoor Suid-Afrika kan tot en met 24 Julie inskryf vir AfriForum Sakenetwerk se jaarlikse Entrepreneur van die Jaar-kompetisie. Hierdie kompetisie, wat in samewerking met Akademia aangebied word, bied buiten groot pryse ook hope geleenthede vir entrepreneurs. Meer as 350 entrepreneurs het reeds sedert 2017 vir dié gewilde kompetisie ingeskryf.

Volgens Sanderien van der Walt, bestuurder by AfriForum Sakenetwerk, is hulle baie opgewonde oor die sewende jaar wat hierdie kompetisie aangebied word. Alhoewel daar groot pryse op die spel is, is die platform wat dit aan die wenner bied van onskatbare waarde.

Tydens ’n opname met vorige wenners van die kompetisie het Bertha Lewis, wat in 2022 met haar pratende beertjie Lingi gewen het, vertel waarom sy ingeskryf het en ook hoeveel blootstelling sy in die media ontvang het danksy dié kompetisie. “Jy moet daardie passie vir jou produk hê; dit is waarom ek ingeskryf het. Terselfdertyd wil jy ook jou produk verbeter en ’n verskil maak in iemand se lewe.

“Die platform wat die kompetisie vir my en my onderneming gebied het, was net ongelooflik. Ek het blootstelling vir my onderneming en produk op Winslyn, Kwêla, in Beeld en verskeie tydskrifte gehad – iets waarvoor ek sou moes betaal het as dit nie vir die kompetisie was nie. As jy jou onderneming ’n trappie verder wil vat, skryf in.”

Alita du Plessis van Purple Carrot, wat in 2021 een van die wenners was, sê sy wou baie graag ’n afspraak met Daniel Strauss, bekende entrepreneur en skrywer, gemaak het, maar het toe vir die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie ingeskryf toe sy sien hy is een van die kompetisie se mentors. “Ek het ingeskryf om die mentor wat ek op daardie stadium nodig gehad het, te kry, maar saam met dit het ek soveel meer gekry. My onderneming het ongelooflik gegroei en die hoeveelheid selfvertroue wat ek gekry het, was die grootste wen. As jy as entrepreneur in jouself glo gaan jou onderneming se groei vanself kom.”

’n Paneel kundiges is deel van die span wat die top 10 beoordeel en gee ook terugvoer tydens sessies. Die vereistes vir die kompetisie is uitgebrei en die kriteria waaraan die wenner moet voldoen is dat die entrepreneur se ervaring ooreen moet stem met die tydperk wat die entrepreneur al in die bedryf is of by die onderneming betrokke is. Die persoon moet ook webinare bywoon.

Die wenner van die kompetisie stap nie net weg met die titel Entrepreneur van die Jaar nie, maar ontvang ook hope blootstelling, mentorskappe, ’n netwerk van entrepreneurs wat tydens die kompetisie ontmoet word, ’n handelsmerkpakket by Kwikstert en handelsmerkbeskerming van SteynIP, asook ’n stewige R50 000 kontant.

“Entrepreneurskap is ’n leerskool. Ons maak almal foute, maar hoe jy by ander kan leer gaan jou help om minder foute te maak. Toe ek vir die kompetisie ingeskryf het in 2020 het ek nog gebruik gemaak van ’n klein spysenieringskombuis en ons is nou al in ’n klein fabriek. Op die oomblik kyk ons daarna om in die kleinhandelmark in te beweeg. Ons het aansienlik gegroei en ons is baie dankbaar daarvoor,” sê Marita Bezuidenhout van Magies vol Liefde en wenner van 2019 se kompetisie. 

“Ons wil entrepreneurs aanmoedig en beloon. Ons sien hulle harde werk raak en dit verg harde werk om in Suid-Afrika suksesvol te wees. Ons hoop dat die pryse die wenner en selfs die top 10 ’n hupstoot sal gee met dit waarmee hulle besig is,” sê Van der Walt.

Volgens Mareli Swanepoel, projektebestuurder by Akademia, is Akademia ’n trotse vennoot van hierdie Afrikaanse entrepreneurskompetisie wat elke jaar nóg groter en beter raak.

“Hierdie kompetisie skep die ideale geleentheid vir entrepreneurs wat ’n publisiteitshupstoot nodig het en uitstekende raad van kundiges op die gebied wil ontvang,” sê sy.

Entrepreneurs kan reeds  op AfriForum Sakenetwerk se webblad inskryf om ’n kans te staan om as Entrepreneur van die Jaar gekroon te word. Die wenner sal in Oktober aangekondig word.

Kyk hier na die opname met vorige jare se wenners.

Soortgelyke plasings