|

AfriForum-dokumentêr vlek voortslepende inmenging en wanbestuur by Netbal SA oop

AfriForum het vandag die tweede episode in hul dokumentêre reeks oor die ware stand van sake in Netbal Suid-Afrika (Netbal SA) bekendgestel. Dié episode getiteld Interference in and mismanagement of sport in South Africa fokus op bewerings van onregmatige skorsings, viktimisasie, magsmisbruik en algehele wanbestuur in Netbal SA.

Van die grootste onthullings in hierdie episode is dat lede van Netbal SA, uit vrees vir viktimisasie, nie hul bekommernis oor aangeleenthede rakende Netbal SA kan uitspreek nie. Diegene wat wel iets sê, word geskors. Die boodskap blyk te wees: Moenie vrae vra nie en moenie aan Cecilia Molokwane, president van Netbal SA, se verkeerde kant kom nie.

Die eerste episode in hierdie reeks is in Junie vanjaar bekendgestel en het talle ernstige bewerings, waaronder bewerings van seksuele misbruik, aan die groot klok gehang. Die nuutste episode ondersteun van die bewerings wat in die eerste episode gemaak is. Volgens AfriForum is dit duidelik dat daar ’n diepgewortelde probleem is in dié sportbeheerliggaam en dat daar dringend ingetree moet word om hierdie probleme in die kiem te smoor. 

Die gaste in hierdie episode is Mimi Zulu (voormalige president van Netbal SA), Eric Mathabatha (’n netbalafrigter) en Joseph Taylor (’n Netbal SA-afrigter en skeidsregter).

“Ons kan nie net toekyk terwyl die waardes van regverdige spel en respek, wat die hoeksteen van sport is, afgewater word deur die individue aan wie die handhawing daarvan juis toevertrou is nie. Die bewerings van viktimisasie en wraakaanvalle is onaanvaarbaar en behoort verder ondersoek te word,” sê Ronald Peters, bestuurder van Sport by AfriForum. “Wanbestuur van sportfederasies en -beheerliggame in Suid-Afrika het ’n negatiewe impak op die rol wat sport werklik in die ontwikkeling en bemagtiging van gemeenskappe behoort te speel,” sluit Peters af.

Soortgelyke plasings