| |

DINK OF SINK: VAN 2017 TOT NOU

Deur Nicolene Muller

Dink of Sink, word met trots geborg deur AfriForum – dit is ’n opskrif wat al sedert 2017 in verskeie koerante en mediaplatforms gesien en gehoor word, maar wat is Dink of Sink nou eintlik?

Dink of Sink is ’n onvoorbereide debatkompetisie wat reeds jare lank in die sentraal-, noord- en suidstreek aangebied word. AfriForum het in 2017 as die hoofborg by die kompetisie betrokke geraak en het die gasheerskole gehelp om die kompetisie van krag tot krag te laat gaan. Beeld, Die Burger en Volksblad is ons mediavennote. Elke jaar plaas hierdie koerante ’n volbladartikel rakende die streekuitdunne en finaal. Hierdie artikel in die gedrukte media gee die wenners nog ’n lekker aandenking, buiten die heerlike pryse en trofeë wat die wenners en naaswenners ontvang!

Dié debatkompetisie fokus daarop om Afrikaans onder hoërskoolleerlinge te bevorder, goeie kommunikasievaardighede te kweek en om die jeug van vandag aan te moedig om ingelig oor aktuele sake te wees.

In 2018 het die kompetisiedeelname in die noordstreek uit sy nate gebars en het AfriForum besluit om ’n vierde streekuitdunrondte te bewerkstellig. Die uitdunrondte vir die verre noordstreek het ontstaan en is by Hoërskool Merensky aangebied waar meer as 100 leerlinge deelgeneem het.

In 2019 het 1 500 leerders regoor die land en in Namibië aan die vier streekuitdunrondtes van Dink of Sink deelgeneem. Met 273 deelnemers was die uitdunrondte vir die noordstreek nog steeds te groot en is AfriForum genoodsaak om die kompetisie oor twee dae te laat strek. Daarna is besluit dat AfriForum beslis nog ’n streekuitdunrondte moet aanbied en so het die uitdunrondte vir die oosstreek in 2020 ontstaan.

Die kompetisie het besonder baie gegroei en dit bevestig dat hoërskoolleerders uitgehonger is om te debatteer, die vaardighede wat gepaardgaan met debat te bevorder en om hulle standpunte oor aktuele sake op ’n veilige en gesonde manier te kan stel.

As gevolg van die uitdagings wat die wêreld in 2020 in die gesig gestaar het, was AfriForum genoodsaak om die Dink of Sink-skoledebatkompetisie aan te pas eerder as om dit uit te stel of af te stel – daarom is dit virtueel aangebied. Die 54 inskrywings wat ontvang is, het net weer bewys dat niks hierdie kranige debatvoerders sal onderkry nie.

Die Dink of Sink-skoledebatkompetisie sal in 2021 weer aanlyn plaasvind. Die aanlyn inskrywings sal per streek beoordeel word, waarna daar ’n wenner in elke streek sal wees. Die streekwenners sal in Oktober die geleentheid gegun word om aan die landswye finaal deel te neem. Daar sal die kaf van die koring geskei word – waar die grootste grootpraters as die wenners van die Dink of Sink- virtuele skoledebatkompetisie vir 2021 gekroon sal word.

Dink of Sink word met trots aangebied deur Beeld, Die Burger, Volksblad en Akademia. Dink of Sink word aangebied by Hoërskool Montana in die noordstreek, Hoërskool DF Malan in die suidstreek, C&N Sekondêre Meisieskool Oranje in die sentraalstreek, Hoërskool Merensky in die verre noordstreek, Hoërskool Nelspruit in die oosstreek en Pro Ed Akademie in Namibië.

Besoek www.dinkofsink.co.za of stuur ’n e-pos aan Nicolene Müller by nicolene.muller@afriforum.co.za vir meer inligting rakende die Dink of Sink- virtuele skoledebatkompetisie vir 2021 en hoe jou skool kan deelneem.

Soortgelyke plasings