|

Druk op ANC-regering oor raswette begin vrugte afwerp

’n Bemiddelingsproses tussen die regering en Solidariteit, onder toesig van die Verenigde Nasies (VN) se Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO), oor diskriminerende raswette het vandag begin.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, beskryf die gebeurtenis as histories en ’n eerste in die geskiedenis van die land. Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) sal as bemiddelaarsagent optree.

Die proses deur Solidariteit om druk op die regering te plaas om weg te doen met regstellende aksie en ander diskriminerende raswette het reeds in 2016 begin. Die eerste skaduverslag is toe by die VN se komitee vir die uitwissing van rassediskriminasie (CERD) asook die IAO ingedien. Daaruit het ’n aanbeveling gevolg wat kritiek gelewer het teen die Suid-Afrikaanse regering se rassebeleid. In reaksie hierop het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) ’n verslag vrygestel wat bepaal het dat die Wet op Gelyke Indiensneming na aanleiding van die CERD-aanbeveling gewysig moet word.

Die MRK is ’n agent van die VN wat moet toesien dat internasionale resolusies toegepas word.

Die regering het nie hieraan gehoor gegee nie wat Solidariteit in die posisie geplaas het om ’n substantiewe klag by die IAO in te dien. Die IAO was van mening dat die klag “ontvanklik” is wat beteken dat Solidariteit se klagte voldoende bewyse bevat het asook dat die organisasie alle interne regsmiddele uitgeput het. Dit is ook as ontvanklik bestempel omdat meer as 500 000 mense die klag gesteun het.

Volgens Hermann is hierdie ’n ongelooflik deurbraak en beteken dit die regering se rassewetgewing is nou op verhoor. Daar is egter ’n tussenproses wat gevolg kan word naamlik dat die partye hulle vrywillig onderwerp aan bemiddeling. Die partye het op 3 Oktober ingestem tot die bemiddelingsproses om te probeer om die dispuut by te lê. Dié proses moet teen 3 April 2023 afgehandel wees.

Sou dit misluk en die regering weier om diskriminerende wetgewing te wysig, sal die saak verder ondersoek word en ’n verhoorproses sal by die VN se IAO begin. Sou Solidariteit egter suksesvol wees, moet die regering wetgewing wysig om aan internasionale standaarde te voldoen.

As die ANC-regering sover gaan om hom nie aan die VN te steur nie, sal ’n proses van diplomatieke druk ook volg.

AfriForum het ook vandeesmaand ’n verslag by die kantore van CERD in Genève, Switserland, ingehandig. Die verslag, Racial discrimination and hate speech against minorities in South Africa since 2020, vorm deel van dié organisasie se gevestigde en groeiende internasionale bewusmakingsveldtog.

Volgens Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir inhoud en strategie by AfriForum, bevat die verslag voorbeelde van diskriminerende wetgewing en beleide wat gedurende Covid-19 in Suid-Afrika voorgekom het asook die jongste voorvalle van haatspraak deur hooggeplaastes in die ooreenstemmende tydperk.

Daar is byvoorbeeld gewys op die toerismeverligtingsfonds wat hulp op grond van swart ekonomiese bemagtiging aan ondernemings aangebied en toegestaan het wat tot hofsake aanleiding gegee het.

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir inhoud en strategie by AfriForum, en Ernst Roets, bestuurshoof vir strategie by AfriForum

Voorts verwys die verslag ook na die Kill the Boer-uitsprake van Julius Malema, leier van die EFF, wat ook tot ’n verhoor in die Gelykheidshof gelei het. Klagtes is daarna wéér teen Malema ingedien en die MRK het besluit om hom te vervolg omdat die klagtes duidelik rassehaat wil bevorder. In hofstukke vra die MRK dat Malema se uitlatings onwettig verklaar moet word omdat dit neerkom op diskriminasie, wat ’n regstreekse uitwerking op die publiek se reg op waardigheid, gelykheid en lewe het.

Soortgelyke plasings