|

Onthou vandag en vertel aan jou kinders waarom ons Geloftedag herdenk

Op 16 Desember 1838, 184 jaar gelede, is die eerste Geloftefees gehou daar op die slagveld, direk na afloop van die Slag van Bloedrivier. Al was die Voortrekkers uitgeput na hierdie oorweldigende veldslag, was die eerste ding wat hulle gedoen het nadat die Zoeloes op die vlug geslaan het, om soos hulle beloof het, die Here vir die oorwinning te dank wat hulle teen alle verwagtinge in behaal het.

Die Gelofte van 1838 was egter nie net ’n plegtige onderneming om God te eer nie, maar ook dat hierdie manne sou verseker dat hulle nageslag die geskiedenis van die gebeure sou leer ken en ook die Gelofte sou nakom. Elke jaar wanneer ons Geloftedag vier, kom ons hierdie onderneming na.

Geloftedag gee aan ons die geleentheid om opnuut stil te staan en nie net die geskiedenis oor te vertel nie, maar ook te kyk waar ons vandag staan en watter inspirasie ons uit die gebeure van 16 Desember 1838 kan put vir die pad tot die volgende 16de Desember ‒ want geskiedenis is ’n storie sonder einde waaraan almal van ons ’n hoofstuk skryf. Dit geld natuurlik ook vir elke kind wat hierdie stuk self of saamlees. Vir hulle onthalwe, vertel ons die gebeure van 1838 kort en bondig.

Aanloop tot die Gelofte en die Slag van Bloedrivier

In 1838 het dit sleg met die Voortrekkers in Natal gegaan. Hulle het alles opgeoffer om ’n nuwe tuiste te probeer vind waar hulle vry sou kon woon – hulle bekende omgewing, huise, plase, vriende, familie, gerief, toegang tot winkels en kerke, ja, selfs hulle veiligheid. Maar toe word hulle geliefde leier Piet Retief en sy manne by uMgungundlovu deur Dingane (ook genoem Dingaan) se krygers vermoor, asook meer as vyfhonderd mans, vroue en kinders langs die Bloukrans- en Boesmansrivier. Teenaanvalle was onsuksesvol en die oorlewendes het geweet dat die Zoeloes hulle een of ander tyd weer sou aanval. Twis onder die leiers, ’n uitsonderlike koue winter en siektes soos masels het nog meer moedeloosheid beteken, maar toe bring die koms van ’n nuwe leier ’n ommekeer.

Dit was Andries Pretorius. Hy is deur die Voortrekkers tot hulle kommandant-generaal verkies. Onder sy leiding het hulle besluit dat as die Zoeloes nie bereid sou wees om hulle op ’n vreedsame wyse ’n kans te gee om in Natal te bly nie, hulle sou veg vir die kans.

Vanaf 26 November 1838 is voorberei om teen die Zoeloes op te trek met ’n kommando bestaande uit mans en seuns, hulle agterryers en enkele Engelse koloniste. Dit was nie ’n wraakkommando nie, maar ’n mag wat wou sorg dat die Voortrekkers in vrede in Natal kon aanbly.

Omdat hulle besef het dat die Zoeloes ’n oormag van soldate met meer krygservaring as hulle gehad het, het hulle nederig God se hulp vir die stryd gevra op die mees eerbiedige manier waaraan hulle kon dink, naamlik met ’n gelofte. ’n Gelofte is ’n belofte wat aan die Here gemaak word. Hierdie gelofte is tot die Slag van Bloedrivier plaasgevind het, elke nag herhaal as gebed om die kommandolede se verbintenis tot die Gelofte duidelik te maak.

Die Gelofte

Tot kort voor 16 Desember het Andries Pretorius nog onder wit vlae boodskappe aan Dingane gestuur om te sê dat die Voortrekkers nie wou oorlog maak nie, maar wou onderhandel. Hy het egter bygevoeg dat indien Dingane wou oorlog maak teen hulle, hulle bereid was om tot die dood toe terug te veg.

Die veldslag

Op Saterdag 15 Desember 1838 het verkenners berig dat ’n groot Zoeloeleër naby die kommando aan die optrek was. Pretorius het besluit om by die Ncomerivier laer te trek en die natuurlike omgewing in te span om die laer te verdedig.

Die Zoeloes is aangevoer deur Ndlela en Dambuza, twee ervare krygsmanne uit koning Shaka se tyd. In die nag het hulle hulle vyftien- tot dertigduisend manskappe om die laer opgestel en op Sondag, 16 Desember 1838, het hulle die minder as seshonderd manne in die laer aangeval. Keer op keer het hulle hergroepeer op die maniere wat hulle van Shaka geleer het en wat in die verlede van die Zoeloes ’n onoorwinlike mag gemaak het, maar telkens het die verwoede teenstand van die Voortrekkers hulle laat terugval. Uiteindelik moes hulle op die vlug slaan en 3 500 dooies agterlaat, teenoor slegs drie gewonde Voortrekkers in die laer, van wie Andries Pretorius een was. Later het Zoeloes wat daar was vertel dat die somtotaal van sterftes tydens die slag en van gewondes wat later dood is, op 10 000 Zoeloes te staan gekom het, teenoor geen Voortrekkers wat op 16 Desember 1838 dood is nie.

’n Wonderwerk

HIerdie getalle is maar een van die redes waarom die oorwinning as ’n wonderwerk beskou kan word. Daar is ook ander redes. As dit sou reën, wat daardie tyd van die jaar baie moontlik in Natal is, sou die Voortrekkers se kruit nat word en sou hulle nie kon skiet om hulle te verdedig nie. Daarteenoor was die wapens van die Zoeloes lig en bruikbaar in enige weersomstandighede. Die veldslag moes baie raserig gewees het, maar tog het die osse, perde en ander diere in die laer nie op loop gesit nie. As dit sou gebeur, sou die laer uitmekaar gespat het en was die beskerming van die Voortrekkers ook daarmee heen. Op ’n ander terrein sou die laer dalk nie so effektief kon beskerming bied as langs die donga waarin die Ncomerivier vloei nie. As die Zoeloes in die nag sou aanval, sou dit ook groot risiko’s skep. Só kan ons aanhou om “as” en “maar” feite op te noem. Waarop dit alles egter neerkom, is dat die oorwinning nie ’n vanselfsprekendheid was nie en dat die manne dit goed geweet het. Daarom dan dat hulle net na die laaste skoot gevuur is, in die laer gekniel en die Here vir sy genade gedank het.

Betekenis

Soms gee God aan ’n gemeenskap die geleenthede om iets besonders tot die geskiedenis by te dra en hier, op 16 Desember 1838 is daardie kans aan ons voorouers gegee. Dit is egter nie net ’n geleentheid nie, maar ook ’n verantwoordelikheid wat insluit dat ons hierdie gebeure elke jaar moet oorvertel van geslag tot geslag. Dit het ons voorouers wat gewone mense was, die kans en plig gegee om iets unieks by te dra tot hierdie land, soos wat gedoen is en wat ons steeds nog doen. Ons voorouers het die Christelike geloof hier geanker. Hulle het ons taal Afrikaans help groei tot dit een van net vier tale was wat in die twintigste eeu hoëfunksiestatus behaal het. Hulle het boerderye, industrieë, mediese sorgsentrums, opleidingsinstellings en vele meer gevestig. Hulle het ook foute gemaak, want hulle was gewone mense met die wens om altyd net beter te doen en meer te bereik. Dit sien ons steeds in die uitnemendheid van projekte en besighede en aksies wat Afrikaners deur die wêreld tot stand bring. Ook was hulle nie die grondrowers soos wat moedswillige politici probeer voorgee nie, maar lede van ’n gemeenskap wat vandag nog landbou- en ander projekte aanpak – ook saam met die nageslag van die krygers wat onder Ndlela en Dambuza by Bloedrivier geveg het.

Elke tyd het sy eie uitdagings – in 1838 het baie Voortrekkers dalk gevoel dat hulle nie ’n toekoms het nie. Vandag is daar mense wat kyk na die ekonomie, politiek en omgewingsake en ook so voel. Wat die geskiedenis van 16 Desember 1838 ons leer, is dat wanneer ons bid, en dan in vertroue skynbaar onmoontlike take aanpak, is wonderwerke moontlik. Bowenal kan ons altyd vertrou op God se genade, wat groter is as wat ons ooit op aarde kan begryp.

Ons wens al AfriForum-lede ’n geseënde Geloftedag toe.

‘n Voortrekker op sy perd. Kleur die prentjie in.

Soortgelyke plasings