|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Die burgerregteorganisasie AfriForum se takke en buurtwagte het vandeesweek weer gewys dat hulle self sal inspring om hul dorpe skoon en veilig te hou.

AfriForum het ook sy eerste privaat brandweerdiens in Bloemfontein van stapel gestuur. Dié diens word in samewerking met FireOps SA aangebied aan AfriForum-lede in Bloemfontein en die landelike gebiede aangrensend tot dié stad. Opgeleide brandweerpersoneel is 24 uur per dag, sewe dae per week, beskikbaar.

AfriForum se Bethal-tak het meer as 100 kg spinasie aan die Bethal-sopkombuis geskenk wat uit hul gemeenskapstuin geoes is. Dié groentetuinprojek voorsien weekliks aan meer as 80 gesinne vars groente.

Die tak in Viljoenskroon het saam met gemeenskapslede ingespring en die verwaarloosde begraafplaas skoongemaak.

Die AfriForum-tak in Vryburg het in Mei 14 leë erwe se lang gras gesny, bome op hierdie erwe gesnoei en rommel opgetel en verwyder. Die oop stuk veld langs die dorp se reservoirs is ook getem en die tak het dus altesaam 2 ha se gras gesny.

Die Rustenburg-tak het verskeie selfdoenprojekte aangepak. Hulle het stoptekens vervang en padtekens weer duidelik geverf, asook 1,85 ha se gras gesny.

In Springs is ’n nuwe bestuurspan vir die komende jaar aangewys. Die nuutverkose bestuur bestaan uit Petro Kirton (voorsitter), Roos Trindade (sekretaresse), Ronel Greyling (tesourier) en Alwyn Kirton (buurtwagleier).

Die Kathu-tak het ’n 40 duim-televisie aan die brandweer geskenk as ’n blyk van waardering nadat dit aan die lig gekom het dat die brandweer se televisie onklaar geraak het.

AfriForum se Overstrand-tak het die speelapparate in die park in Douglasstraat, Onrus, nuut oorgeverf.

In Swellendam was AfriForum se strukture baie bedrywig. Die tak het solarligte opgerig en brandkrane in die dorp geoudit. Die buurtwag het onder meer gehelp tydens ’n soektog na ’n vermiste man, gesteelde toerusting opgespoor en ’n gesoekte misdadiger aangekeer. Tydens ’n klopjag wat saam met die polisie uitgevoer is, is daar beslag gelê op dwelms, geld en 600 liter drank.

Die Durbanville-buurtwag het saam met AfriForum se privaat sekuriteitsmaatskappy, Forum Sekuriteit, ’n vermeende inbreker op heterdaad betrap toe hy by AfriForum se kantoor ingebreek het. Forum Sekuriteit se personeel het die inbreker op die veiligheidskameras gewaar en die Durbanville-buurtwag en -protospan in kennis gestel. Vir verkiesingsdag het dié AfriForum-buurtwag ’n finansiële bydrae aan die plaaslike polisie gemaak sodat ’n maaltyd aangekoop kon word vir die polisiebeamptes wat by stemlokale diens gedoen het.

In Vredendal het AfriForum se Matzikama-plaaswag Nextorch-flitse ter waarde van R18 000 aan hul plaaslike polisie geskenk om hulle werk te vergemaklik.

Die Brits-buurtwag het ’n verdagte met vermoedelik gesteelde goedere aangekeer nadat hulle hom tydens ’n patrollie opgemerk het. Die verdagte is aan die polisie oorhandig.

AfriForum se Sasolburg-buurtwag het in Mei verskeie operasies saam met die polisie en veiligheidsinstansies onderneem. Arrestasies is onder meer gemaak vir die misbruik van alkohol in die openbaar, die gebruik van onpadwaardige voertuie, bestuur onder die invloed, die besit van gesteelde goedere en vir die besit van en handeldryf met dwelms. Dié buurtwag patrolleer ook saans by die noodapteek om personeel veilig te hou, asook Sondae van 11:30 tot 13:30 by die begraafplaas sodat mense hul geliefdes se grafte kan besoek. Tydens ’n operasie by ’n hoërskool waar daar met die leerders oor boeliegedrag, dissipline, dwelmmisbruik en kriminele rekords gepraat is, is daar ook beslag gelê op messe, sigarette en instrumente waarmee dwelms en dagga gerook word.

Soortgelyke plasings