|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum se buurtwagte het die afgelope tyd hard gewerk om booswigte vas te trek terwyl die takke voortgewoeker het met hul onderskeie skoonmaakprojekte en om voorbrande te maak.

AfriForum se Groblersdal-buurtwag het twee vermeende veediewe vasgetrek nadat ’n buurtwaglid die verdagtes met sakke oor hul skouers by sy grensdraad opgemerk het. Dié sakke was vol vars vleis en messe nadat hulle glo ’n bees op ’n naburige plaas geslag het. Die verdagtes het gevlug, maar is later opgespoor, gearresteer en aan die polisie oorhandig.

Die Kroondal-plaaswag buite Rustenburg en ander rolspelers insluitend die plaaslike polisie het ’n vermeende dief vinnig opgespoor nadat ’n noodroep ontvang is dat ’n grassnyer gesteel is. Die verdagte het die grassnyer in sy besit gehad toe hy aangekeer is.

Die grassnyer wat in die verdagte se besit gevind is.

Tydens die vloede in Kariega (voorheen Uitenhage) het AfriForum se Uitenhage- en Port Elizabeth-tak ingespring en die slagoffers gehelp. Matrasse, kos en klere is ingesamel of aangekoop en aan diegene wat sonder heenkome gelaat is, geskenk.

In Worcester het die AfriForum-tak saam met die gemeenskap en Worcester United Church uitgereik na behoeftiges en haweloses. 44 mussies is aan hulle uitgedeel en die kerk het sop en broodjies aan die hawelose uitgedeel.

Die AfriForum-tak in Kathu het ’n 2 500 liter watertenk by die brandweer opgerig wat as ’n noodwaterpunt gebruik kan word indien dié dorp nie water het nie. Die brandweer het onderneem om die tenk vol water te hou.

Die nuwe AfriForum-noodwaterpunte in Machadodorp het reeds ’n groot bydrae gelewer toe die gemeenskap en selfs die brandweer van dié punte gebruik moes maak. Die watertekorte wat in die dorp ervaar word, plaas ernstige druk op die diens wat die brandweer moet bied en die noodwaterpunt bring groot verligting.

Byna 600 inwoners van Heilbron en die omliggende gemeenskappe het AfriForum se petisie geteken oor die ernstige watertekorte wat ervaar word nadat Rand Water waterverminderingsmaatreëls ingestel het. Hierdie petisie is aan die Vrystaatse premier voorgelê en dringende ingryping word geëis.

In Bethal het die tak met hul onlangse skoonmaakprojek twee sleepwaens gesnyde gras en 24 sakke rommel verwyder met die opknapping van die strook langs die N17 by die dorp se ingang vanaf Trichardt.

AfriForum se Witbank-tak het ’n oop veld skoongemaak wat ’n wegkruipplek vir kabeldiewe en sluipslapers geword het en met rommel bestrooi was.

Die Krugersdorp-tak het in samewerking met die Krugersdorp-wildtuinbestuur, die Mogale City-brandweer en brandweerreserviste voorbrande by die wildtuin gemaak om onbeheerbare veldbrande te verminder en die natuurlike habitatte te beskerm.

Die Wes-Moot-tak in Pretoria het in samewerking met die plaaslike brandbeskermingsvereniging (BBV) ook voorbrande gemaak om inwoners van Kameeldrift-Wes, Swacina Park en Boekenhoutkloof teen brande te beskerm.

AfriForum se teenboelieveldtogspan het die meer as 600 leerders van Laerskool Muldersdrif ingelig oor die gevare van boeliegedrag en hoe om dit te bekamp.

AfriForum is van mening dat die sluiting van vyf Media24-koerante ’n reuseterugslag is vir gehaltejoernalistiek. Indien die sluitings deurgevoer word, versaak Media24 die Afrikaanse gemeenskap en die titels van publikasies wat deel is van die fondament waarop dié sakereus gebou is.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid kon ’n saak suksesvol afsluit nadat Jonas Noediegi Sebati in die Middelburg-landdroshof gevonnis is vir strafbare manslag. Granny Madihlaba het dié eenheid genader nadat haar seun Motheo Madihlaba, ’n kitskosafleweraar, twee jaar gelede dood is toe Sebati onder die invloed bestuur het, voertuie op ’n sperstreep verbygesteek het en trompop teen Madihlaba se bromponie gebots het. Sebati is tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis wat opgeskort is vir vyf jaar. Hy is ook ’n boete van R4 000 of een jaar gevangenisstraf opgelê.

Soortgelyke plasings